Soek- en reddingspan geloof vir dapper optrede om liggaam uit rivier te kry
Die identiteit van die oorledene is nog onbekend.
‘n Urelange operasie om ‘n liggaam in uitdagende omstandighede uit die Caledonrivier te haal, het hom vanoggend, Sondag 10 Mei, afgespeel.
Die polisie se Phuthaditjhaba Soek- en Reddingseenheid is geloof vir die tegniese kundigheid en versigtigheid waarmeer die bergingsoperasie in hoërisiko-omgewing uitgevoer is.
Die omstandighede rondom die dood van die oorledene wie se identiteit nog nie bevestig kon word nie, sal deur die polisie in Ficksburg ondersoek word.
Die liggaam is Saterdagaand omstreeks 18:40 deur ‘n skaapwagter opgemerk waar dit tussen boomtakke in die rivier vasgekeer was.

Die Vrystaatse Polisiekommissaris, luitenant-generaal Thabang Lesia, het sy diepe waardering teenoor die Soek- en Reddingslede uitspreek. “Hierdie duikers werk dikwels in byna geen sigbaarheid en ysige, water, en stel hul eie veiligheid in gevaar om hul plig te vervul om geliefdes se oorskot aan hul families te besorg sodat hulle vrede kan vind en met die rouproses kan begin,” het Lesia gesê.
Die oorledene is volgens die polisie in sy middel-veertigs, en het ‘n blou oorpak gedra. Hy was kaalvoet, en sonder sigbare beserings.
Enigiemand met inligting oor die identiteit van die slagoffer word versoek om speurder-adjudant-offisier Mofolo van die Ficksburg Speurdienste by 082 301 9578 of die SAPD se Misdaadlyn by 08600 10111 te kontak, of ’n anonieme wenk via die MySAPS-toepassing deur te gee.



