NSFAS: Studente kan nie langer prys betaal vir stelsel wat nie werk nie
"Die vraag is nie net hoe ons meer studente kan befonds nie, maar hoe ons dit beter kan doen", sê Yolandi Theron, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studietrust
“Wanneer die stelsel faal, is dit nie strukture wat swaarkry nie, maar studente wat nie weet of hulle môre klas toe kan gaan nie.”
Só sê Yolandi Theron, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studietrust, in reaksie op die besluit om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) onder administrasie te plaas.
Die ingryping, aangekondig deur Buti Manamela, volg op ‘n opeenstapeling van krisisse binne NSFAS – van vertraagde befondsing, tot verblyfkwessies en appèlle wat nie verwerk word nie.
Volgens Theron is die kern van die krisis dieper as finansiering. Dit gaan oor bestuur wat nie standhou nie, stelsels wat nie funksioneer nie en ‘n groeiende verlies aan vertroue in ‘n instelling wat veronderstel is om een van die land se belangrikste opvoedkundige vangnette te wees.
In die middel van hierdie krisis is studente vasgevang. “Studente kan nie wag vir stelsels om eendag reg te werk nie. Hulle het nou sekerheid nodig,” sê Theron.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê hoewel die ingryping laat kom, is dit noodsaaklik.
“Ons is dankbaar dat die regering uiteindelik ingegryp het en nie die sukkelende proses laat voortduur nie. Ons kan nou net hoop dat dit ‘n geslaagde poging sal wees en dat die nodige strukture werklik verbeter sal word tot voordeel van studente en die Suid-Afrikaanse gemeenskap,” sê Noëth.
Volgens Noëth is dit egter kommerwekkend dat dit so lank geneem het om daadwerklik op te tree. Hy waarsku dat die impak van swak studenteondersteuning verder strek as individuele gevalle.
“Teen hierdie agtergrond word dit al hoe duideliker dat die oplossing nie net by die regering alleen kan lê nie. Gemeenskapsgebaseerde modelle bied reeds bewese alternatiewe wat fokus op volhoubaarheid en aanspreeklikheid,” het Noët gesê.

Solidariteit Helpende Hand se Studietrust belê byvoorbeeld jaarliks sowat R70 miljoen in rentevrye studielenings. Daarmee word vanjaar 1 200 studente gehelp om te studeer, maar meer as 600 moes ongelukkig steeds weggewys word weens beperkte fondse.
Met ‘n terugbetalingskoers van 99% en ‘n model waar fondse oor en oor hergebruik word om volgende studente te help, wys hierdie benadering hoe volhoubare befondsing in die praktyk kan werk, het Noëth verder gesê. “Meer as 7 000 studente is reeds deur dié model ondersteun met meer as R500 miljoen wat oor tyd gesirkuleer het.”
“Ons ervaring wys dat dit nie net gaan oor hoeveel geld beskikbaar is nie, maar oor hoe daardie geld bestuur, beskerm en hergebruik word. Volhoubaarheid vra aanspreeklikheid,” sê Theron.
Hoewel die NSFAS-administrasie daarop gemik is om stabiliteit te herstel, is dit duidelik dat die huidige krisis ‘n breër gesprek noodsaak oor hoe studiefinansiering in Suid-Afrika gestruktureer en bestuur moet word.
“Die vraag is nie net hoe ons meer studente kan befonds nie, maar hoe ons dit beter kan doen,” sê Theron.



