Polisie kom tot ape se redding
Die twee ape sal in 'n geregistreerde rehabilitasiesentrum geplaas word.
Die polisie het Vrydag tot die redding gekom van twee ape toe daar gepoog is om hulle onwettig tydens ‘n veiling in Vryburg te verkoop.
‘n Vrywilliger van die wildrehabilitasie-organisasie en boere wat die veiling bygewoon het, het owerhede in kennis gestel nadat hulle ontdek het dat ’n paartjie probeer het om die twee vasgebinde ape by die plaaslike veilingskraalterrein te verkoop.
Adjudant-offisier Willem Erasmus van die Vryburg K9-eenheid het vinnig op die klagte gereageer, en saam met die wildvrywilliger gewerk om die diere te beveilig en die verdagtes in hegtenis te neem. Die verdagtes is vervolgens beboet vir die onwettige besit en poging tot verkoop van inheemse wild.

Die ape is in veilige sorg geplaas hangende hul oorplasing na ’n geregistreerde rehabilitasiesentrum.

Majoor-generaal (Dr) Ryno Naidoo het sowel die gemeenskapslid as die polisielid geloof vir hul optrede. Naidoo het beklemtoon dat hierdie voorval die belangrikheid van samewerking tussen gemeenskappe, bewaringsbelanghebbendes en wetstoepassingsagentskappe demonstreer in die beskerming van ons natuurerfenis. Naidoo het bygevoeg dat die polisie daartoe verbind bly om wette af te dwing wat daarop gemik is om inheemse wild te beskerm. Hy het ook lede van die publiek aangemoedig om alle vorme van wildmisdaad aan te meld.
Laastens het hy gemeenskappe aangemoedig om voort te gaan om nou saam met wetstoepassingsowerhede te werk om omgewings- en wildverwante misdaad te bekamp.



