Local newsNews

Nampo: Volhoubaarheid en winsgewendheid kan nie geskei word nie

Gesprekke op die openingsdag van Nampo het die kollig geplaas op die ekonomiese druk waaronder die landboubedryf vandag staan.

Die ekonomiese realiteite waarmee Suid-Afrikaanse graanprodusente gekonfronteer word het sterk na vore gekokm tydens gister (Dinsdag 12 Mei) se opening van die Nampo Oesdag buite Bothaville. Graan SA het tydens die openingsgesprekke beklemtoon dat produsente se winsgewendheid, langtermynmededingendheid en praktiese markoplossings sentraal tot die toekoms van landbou moet bly.

Uit gesprekke deur die loop van die dag was dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse landboubedryf onder ernstige druk is, maar dat die bedryf nie stilstaan nie.

Stygende produksiekoste en produsente-inkomste was van die besprekingspunte, met sprekers wat gewaarsku het dat winsgewendheid nie meer bloot ’n boerderykwessie is nie, maar ’n breër voedselveiligheids- en ekonomiese stabiliteitskwessie vir die land.

Die kwessie van produsente-winsgewendheid het ook sentraal gestaan tydens ’n hoëvlak-paneelbespreking, To Farm or Not to Farm: The Economic Reality, gefasiliteer deur Theo Vorster en met deelname van Graan SA voorsitter, Richard Krige, Hansie Viljoen, Jaco Minnaar en Japie Grobler.

Die gesprek het die toenemende ekonomiese druk waarmee graanprodusente gekonfronteer word ontleed, insluitend stygende insetkoste, kleiner marges, markwisselvalligheid en die groeiende uitdaging om boerdery op die lang termyn volhoubaar te hou.

’n Kernvraag wat aan die paneel gestel is, was: “As julle vandag van vooraf moes begin, sou julle steeds kies om te boer – en wat sou moes verander sodat die antwoord ja kan wees?”

Paneellede het saamgestem dat, hoewel landbou steeds ’n betekenisvolle en strategiese sektor bly, die ekonomiese omgewing vir produsente toenemend moeiliker geword het. Besprekings het die dringende behoefte aan verbeterde winsgewendheid, meer voorspelbare beleidsraamwerke, sterker logistieke stelsels, uitgebreide markgeleenthede en groter langtermynbeleggingssekerheid uitgelig.

“Ons kan nie volhoubaarheid van winsgewendheid skei nie,” het Krige gesê. “As produsente nie winsgewend is nie, vertraag belegging, opvolgbeplanning raak onseker, en voedselveiligheid word in gevaar gestel.”

Die huidige graanoorskot en die druk waaronder produsente verkeer, staan sentraal in Graan SA se gesprekke tydens Nampo. Elke geleentheid word benut om met rolspelers regoor die landbouwaardeketting in gesprek te tree oor kwessies wat produsente se volhoubaarheid en winsgewendheid beïnvloed, insluitend gesprekke met John Steenhuisen, Minister van Landbou, wat die geleentheid bywoon. Besprekings fokus steeds op marktoegang, logistieke doeltreffendheid, uitvoergeleenthede, regulatoriese sekerheid en praktiese ingrypings wat die langtermyn volhoubaarheid van graanproduksie in Suid-Afrika kan versterk.

Deur die loop van die dag het Graan SA ook die dringende behoefte beklemtoon om marktoegang te verbeter en graanoorskotte meer doeltreffend deur uitvoerkanale en waardekettingontwikkeling te beweeg.

Tydens Graan SA se strategiese oorsigsessie het Graan SA se uitvoerende hoof, Dr Tobias Doyer, beklemtoon dat Suid-Afrikaanse landbou toenemend as ’n wêreldmededingende, uitvoergedrewe graanekonomie geposisioneer moet word, terwyl daar terselfdertyd in langtermyn-doeltreffendheid en produktiwiteitsgroei belê word.

“Daar is net een manier waarop ons wêreldwyd mededingend kan bly – en dit is deur beter wetenskap, beter tegnologie en verbeterde produktiwiteit,” het Doyer gesê.

Doyer het beklemtoon dat Suid-Afrikaanse graanprodusente direk met groot internasionale produksiegebiede meeding en dat mededingendheid nie meer uitsluitlik op beskermingsmeganismes kan steun nie. Langtermynvolhoubaarheid sal eerder afhang van produktiwiteitsgroei, tegnologie-aanvaarding, doeltreffende regulering en sterker markstelsels.

’n Belangrike fokusgebied wat gedurende die eerste dag bespreek is, was die noodsaaklikheid om verder te beweeg as bloot die uitvoer van grootmaatgraan en eerder groter waardetoevoeging binne die landbou-ekonomie te bevorder.

Gesprekke rondom dierlike proteïen, streekshandelsgeleenthede, logistieke hervorming en industriële vraag het deel gevorm van ’n breër gesprek oor die bou van ’n meer veerkragtige en gediversifiseerde graanwaardeketting.

Die Nampo Oesdag duur tot Vrydag 15 Mei. Foto: Verskaf deur Graan SA
Die Nampo Oesdag duur tot Vrydag 15 Mei. Foto: Verskaf deur Graan SA


Graan SA het ook sy voortgesette betrokkenheid by sleutelbeleids- en regulatoriese aangeleenthede wat produsente raak, herbevestig, insluitend: dieselrabatadministrasie, logistiek- en hawedoeltreffendheid, regulering van landboumiddels ingevolge Wet 36, markdeursigtigheid en prysvorming, uitvoertoegang en handelsversperrings, en langtermynbeleggingssekerheid. Ten spyte van die moeilike ekonomiese klimaat het die toon van NAMPO se openingsdag konstruktief en oplossingsgedrewe gebly.

“NAMPO is waar landbou bymekaar kom om moeilike realiteite te konfronteer, praktiese oplossings te deel en vertroue in die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou te bou,” het Krige afgesluit.

Die Nampo Oesdag bring produsente, landboubesighede, beleidmakers, navorsers en internasionale rolspelers vanuit die volledige landbouwaardeketting bymekaar en duur tot Vrydag 15 Mei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button