Polisiekaptein red skillie uit sjebien
Die bergskilpad is toevallig gevind toe die polisie toegeslaan het op 'n onwettige dankperseel
‘n Bergskilpad se lewe is deur kaptein Elize van Schalkwyk, bevelvoerder van die Klerksdorp Vuurwapen-, Drank- en Tweedehandse Goedere (FLASH)-eenheid gered nadat sy die skilpad met ‘n ketting om sy nek gekry het tydens ‘n inspeksie by ‘n onwettige sjebien in Klerksdorp. Die skilpad is vermoedelik tussen 50 en 70 jaar oud.
Kaptein Van Schalkwyk het Donderdag 21 Mei die onwettige drankperseel besoek toe sy inligting opgevolg het, en ’n 51-jarige verdagte in hegtenis geneem het vir beweerde handel in drank sonder ’n lisensie. Tydens inspeksie het sy die skilpad gekry wat met ’n ketting aan die grond vasgemaak was, sonder kos of water.
Natuurbewaringsbeamptes is in kennis gestel, en aan Kelly Meintjies, ’n veldbeampte van Natuurbewaring oorhandig.

Inheemse skilpaaie word ingevolge Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet (NEMBA) en provinsiale natuurbewaringsordonnansies beskerm. Die besit of verkryging van ’n luiperdskilpad van ’n ongeregistreerde bron is onwettig en kan jy nie ‘n permit daarvoor kry nie.
Wettige besit vereis toestemming van die betrokke provinsiale bewaringsowerheid.
Dit is ook onwettig om ’n skilpad wat in gevangenskap aangehou is, weer in die natuur vry te laat, omdat dit moontlik nie sal oorleef nie of siektes na ander spesies kan versprei.
Lede van die publiek wat moontlik in besit is van ’n ongemagtigde skilpad, word versoek om dit onmiddellik oor te gee om boetes of vervolging te vermy. Die veiligste plekke om dit af te gee, is die plaaslike NSPCA of ’n gemagtigde wildrehabilitasiesentrum.
Enigiemand wat onwettige besit of handel in skilpaaie vermoed, word aangemoedig om die saak by die Wildlife Crime Information Network via WhatsApp by 079 643 9556 aan te meld, of dit by die naaste polisiekantoor te rapporteer.
Die 51-jarige verdagte sal Maandag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van oortreding van die Drankwet 59 van 2003 en oortreding van Artikel 2(1) van die Wet op Dierebeskerming, Wet 71 van 1962.
Die waarnemende kommissaris van Noordwes, Generaal-majoor (Dr.) Ryno Naidoo, het die inhegtenisneming verwelkom en kaptein Van Schalkwyk geloof vir haar waaksaamheid en vinnige optrede. Hy het gesê die redding wys op die belangrikheid daarvan om bedag te bly op alle vorme van misdaad, insluitend misdrywe teen beskermde wild.




