Plaaseienaars gee hulself oor ná polisie toeslaan op onwettige dwelmlaboratorium
Agt van die 13 beskuldigdes is onwettige immigrante
Die eienaars van die plaas in die Swartruggens-distrik, waar die polisie op 13 Mei toegeslaan het op ‘n onwettige dwelmvervaardigingslaboratorium, het hulself aan die polisie oorgegee vir ondervragings, en word nou saam met die 11 ander beskuldigdes aangekla vir die vervaardiging van onwettige dwelms, onwettige besit van gevaarlike chemikalieë, en die onwettige besit van edelmetale.
Hulle het Vrydag 22 Mei saam met die ander beskuldigdes onder wie Mexikaanse, Mosambiekse en Suid-Afrikaanse burgers, in die landdroshof op Swartruggens verskyn
Die beskuldigdes is
- Tyron John Schutte
- Kyle Schutte
- Ismael Afiado Massingue
- Lourenco Constantino Cumbane
- Tobias Soyani
- Vusi Amos Mkambi
- Naome Jacquelin Lopez Madrid
- Fabian Astorga Ramirez
- Jesus Alonso Medina Astorga
- Luis Alberto Ramirez Rios
- Jose Andres Medina Astorga
- Chantel Adele Schutte
- Johann Louis Schutte
Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat agt van die beskuldigdes onwettige immigrante is en ook aangekla word vir oortreding van die Immigrasiewet.
Die beskuldigdes sal weer op 12 Junie voor die hof wees.

Miljoene se Tik gekry
Die grootskaalse onwettige dwelmvervaardigingsfasiliteit waar vermoedelik metamfetamien vervaardig is, is ontdek tydens ‘n intelligensie gedrewe operasie op 13 Mei.
Tydens die klopjag is ongeveer 481 kilogram metamfetamien gekonfiskeer asook ‘n groot hoeveelheid toerusting en chemikalieë wat verbind word met die vervaardiging van dwelms, sowel as drie vuurwapens.
Die beraamde waarde van die onwettige dwelmlaboratorium oorskry R1 miljard.



Vierde onwettige laboratorium
Voorlopige ondersoeke dui ook daarop dat die laboratorium die vierde dwelmlaboratorium in Suid-Afrika is met beweerde Mexikaanse bande.



