3 Swaar gestraf ná mans ontvoer en in rivier gegooi word
Die mans is eers die volgende oggend uit die rivier gered toe 'n verbyganger hulp ontbied het.
Tshepang Dithato (23), Kearabetswe Mofokeng (24) en Vuyani Nondey (28) is vandag deur die Bothaville Streekhof swaar gevonnis nadat hulle Maandag, 25 Mei skuldig gepleit het op verskeie aanklagte teen hulle waaronder poging tot moord, ontvoering en aanranding.
Die vonnis spruit voort uit ’n voorval in Augustus 2025 toe twee mans, onderskeidelik 26 en 32 jaar oud, in Bothaville ontvoer is. Die hof het gehoor hoe die slagoffers ernstig aangerand is, hul hande vasgebind is en hulle in die Vaalrivier naby Leeudoringstad gegooi is.
Die twee het daarin geslaag om te swem en aan ’n boom vas te klou tot die volgende oggend. ’n Verbyganger het hulle opgemerk en die polisie in kennis gestel. Albei slagoffers is gered en kon inligting aan die polisie verskaf.
Danksy die toewyding van speur-sersant Dannis Mokoena van die Bothaville Speurdienste is vier verdagtes op 8 September 2025 gearresteer.
Maande se ondersoek en getuienis wat voor die hof gehoor is, het uiteindelik daartoe aanleiding gegee dat drie van die verdagtes skuldig gepleit het op die onderskeie aanklagte, terwyl die vierde beskuldigde die aanklagte teen hom ontken. Laasgenoemde se hofverrigtinge duur voort.
Landdros Mahlatsi het die drie beskuldigdes soos volg gevonnis:
- Tshepang Dithato (23) is tot 21 jaar gevangenisstraf gevonnis op twee aanklagte van poging tot moord en ontvoering.
- Kearabetswe Mofokeng (24) is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis op een aanklag van aanranding met die opsig om ernstige liggaamlike besering te veroorsaak.
- Vuyani Nondey (28) is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis op een aanklag van aanranding met die opsig om ernstige liggaamlike besering te veroorsaak.



