Plaasaanval net ure na moord op Bothaville-man
Die polisie het dringend die hulp van die gemeenskap gevra om met inligting na vore te kom wat sal lei tot die arrestasie van die verdagtes.
Etlike ure nadat die 69-jarige Petrus Janse van Rensburg buite sy huis in die nywerheidsgebied van Bothaville oorval en wreed vermoord is, is ‘n bejaarde egpaar van die Bothaville-distrik op hul plaas aangerand en beroof.
Die egpaar, onderskeidelik 77 en 80 jaar oud, het omstreeks 20:00 op hul plaas aangekom toe drie mans met klapmusse en handskoene hulle oorval het, sê sersant Palesa Thabana.
Een van die verdagtes het die man met ‘n hamer teen die kop geslaan, terwyl die ander twee die vrou vasgehou het. Die egpaar is toe in die huis ingedwing waar hulle met ‘n staalstaaf aangerand is.
Die mans wou geld by die egpaar hê.
Een van die aanvallers was met ‘n vuurwapen gewapen, en het hulle die man en vrou beveel om op die bed te sit, terwyl hul monde met kleefband toegeplak, en hul hande vasgebind is.
Die drie verdagtes het die slaapkamer geplunder, voordat hulle met die geld wat die egpaar vir hulle gegee het, ‘n rewolwer, vrouekleure en skoene gevlug het.
Die egpaar kon later die nag hulself loskry en het die aanval by die polisie gerapporteer.
Beide slagoffers het geringe beserings tydens die voorval opgedoen.
Die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof.
Janse van Rensburg se moordenaars, sowel as die egpaar se aanvallers is steeds soek, het sersant Thabana bevestig.
Die polisie doen ‘n beroep op enigeen met inligting wat sal lei tot die arrestasie van die verdagtes van beide voorvalle, om na vore te kom. Inligting kan deurgegee word aan kaptein Maleme van die Bothaville-speurtak by 082 466 7923. Alternatiewelik kan die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 geskakel word, of anonieme wenke kan via die MySAPS-toepassing deurgegee word.



