Turkoois-pannekoeke plaas die fokus op bejaardes
Tooi Turkoois plaas elke jaar die fokus op ons bejaardes.
Die landwye Tooi Turkoois bewusmakingsveldtog vir bejaardes is vandag, 15 Junie, afgesluit. Met die maandlange veldtog word daar veral gefokus op die behoeftes van bejaardes, en was dit ook ‘n geleentheid vir mense om hul omgee vir bejaardes prakties te kon wys.
In Parys is daar egter kleur aan dié veldtog gegee met turkoois pannekoeke wat by Najaarsrus gebak is.
Een van die grootste geskenke wat jy vir ‘n bejaarde kan gee is jou tyd. Hetsy jy jou winkel, restaurant, huis, kantoor of gastehuis met turkoois lappe of strikke vir die maand getooi het, of uitgereik het na ‘n bejaarde met ‘n spesiale bederfpakkie of lekker eetdingetjie, of selfs ‘n koppie tee saam met ‘n bejaarde gedrink het.

Jou finansiële ondersteuning vir tehuise vir bejaardes in hierdie moeilike ekonomiese tye is eweneens baie nodig, omdat soveel bejaardes en tehuise sukkel om maandelikse verpligtinge na te kom.

Daar is vele maniere hoe jy jou omgee kan wys vir bejaardes – nie net gedurende die Tooi Turkoois-veldtog nie. Reik uit na tehuise vir bejaardes in jou dorp en wys jou omgee.




