Konsentrasiekampdag maak geskiedenis lewendig vir jong geslag
Kinders het met groot geesdrif aan die dag deelgeneem.
Kinders, ouers, oupas en oumas het vandag op Jeugdag 16 Junie, by die Voortrekkermonument-terrein byeengekom vir die jaarlikse Konsentrasiekampherdenkingsdag. Die dag het nie net die kollig op die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog laat val nie, maar die gebeure op ’n opvoedkundige, gebalanseerde en gesinsvriendelike wyse herdenk.
Die verrigtinge het vroegoggend afgeskop met ’n lintknipseremonie om die opgeknapte Pioniersentrum amptelik te heropen.
Die jong gaste by die Kultuurtuiste het ook die geleentheid gehad om deel te neem aan ’n verskeidenheid aktiwiteite. Perderitte, kettieskiet, stokbroodbak, die verf van kreatiewe sakke en tradisionele speletjies het groot belangstelling gelok.
Die dag se opvoedkundige fokus is verder versterk deur gratis Monument-besoeke vir alle kinders, en ’n besonderse jeugfotografieuitstalling in die Pioniersentrum wat deur die Photographic Society of South Africa (PSSA)-Jeug aangebied is.
Dié uitstalling, wat nog vir ses weke te sien is, bied aan jong fotograwe die geleentheid om hul talent ten toon te stel en terselfdertyd hul perspektiewe op erfenis, geskiedenis en identiteit uit te beeld.

Nog ’n gewilde item op die program was die gesprek deur die jeugboekskrywer Anneke Langner, wat jong lesers geïnspireer het om deur stories en boeke meer oor hul geskiedenis en kultuur te ontdek.
Die Pretoria Volkspele-laer se vertoning het die dag se tema van kultuuroordrag tussen geslagte perfek afgerond.

Lewende Laer. (Foto: Du Preez de Villiers)
Benewens die formele program was die Pionierswerf deurentyd ’n miernes van bedrywighede. Kinders kon die plaasdiere voer, die modeltreintjies bewonder, klei speel, leer om sweep te slaan en die brandweeruitstalling deur die Sinoville Brandbestrydingsvereniging (SBBV) besoek.
Hierdie aktiwiteite het die geskiedenis van die pionierstydperk en die leefwyse van vorige geslagte op ’n praktiese en genotvolle wyse vir jong besoekers toeganklik gemaak.
Die sukses van die dag was sigbaar in die groot aantal gesinne wat die terrein besoek het en in die geesdrif waarmee die kinders aan die verskillende aktiwiteite deelgeneem het.



