Taai, maar lekker, vertel boere oor Comrades-ervaring
Deelnemers het vanjaar opdraande gehardloop van Durban na Pietermaritzburg.
ough, maar lekker. So beskryf Gys Visagie vanjaar se Comrades-marathon wat hy in ‘n tyd van 10:41:00 voltooi het. Vir dié boorling van Vredefort is die bronsmedalje wat hy kon huis toe bring ‘n mylpaal, nadat hy nie verlede jaar die ultramarathon kon voltooi nie, weens ‘n enkelbesering ‘n maand voor die Comarades.
Vanjaar moes deelnemers opdraande hardloop van Durban na Pietermaritzburg, en was Visagie se ouers en suster daar om hom langs die pad te ondersteun.
Omdat hy op ‘n plaas buite Vredefort woon, oefen hy meestal op die plaas en het maande se voorbereiding vir die marathon reeds in Augustus 2025 vir hom begin. Visagie het ook in April vanjaar die Twee Oseane-marathon voltooi in ‘n tyd van 06:41:00.

Vir Simon Germishuys, ‘n boer van Heilbron, was dit ook vanjaar sy tweede Comrades wat hy in ‘n tyd van 10:26:00 voltooi het om sy bronsmedalje te ontvang.
Germishuys vertel dat hy ‘n goeie wedloop gehad het, en dat dit heelwat makliker gegaan het as die vorige jaar toe hy ook ‘n bronsmedalje verower het. Hy het van Januarie af voorberei vir die Comrades en gefokus op korter afstande deur die week, en langer afstande oor naweke, met genoeg rus voor die ultramarathon.

Beide hardloop in die kleure van Parys Multisport.



