Local newsNews

Minder water in die krane vir Heidelberg-inwoners oor waterskuld

Rand Water sê hy bly verbind daartoe om grootmaat drinkwater aan al sy kliënte te voorsien, met die gepaardgaande verantwoordelikheid om vir die diens te betaal.

Toenemende skuld van die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit wat die dorpe Heidelberg, Nigel, Devon en Vischkuil insluit, het Rand Water genoop om die voorsiening van grootmaat drinkwater met 20% te verminder weens die munisipaliteit se versuim om verskeie geskeduleerde betalings na te kom. Die besluit om die watertoevoer aan die munisipaliteit te verminder volg op maande se beraadslaging tussen die twee partye.

Tot op hede skuld die Lesedi Munisipaliteit wat ook deel is van die Sedibeng Distrik Munisipaliteit, Rand Water R27 710 000,00.

Rand Water het op 14 April formeel kennis gegee van sy voorneme om die voorsiening van grootmaat drinkwater aan die munisipaliteit te verminder. Die beperking sou 30 dae ná die uitreiking van die kennisgewing in werking tree.

Die kennisgewing was onder meer daarop gemik om:

• Die redes vir die voorgestelde beperking van watertoevoer uiteen te sit;

• Die munisipaliteit aan sy wetgewende en kontraktuele verpligtinge te herinner;

• Die munisipaliteit voldoende tyd te gee om sy verbruikers in kennis te stel en alternatiewe reëlings te tref indien die beperking langer as 24 uur sou duur; en

• Die munisipaliteit die geleentheid te bied om vertoë te rig voordat die vermindering van die watertoevoer geïmplementeer word.

Ná die uitreiking van die kennisgewing het die munisipaliteit Rand Water versoek om die implementering van die voorgestelde vermindering van die watertoevoer te heroorweeg. Rand Water het die versoek oorweeg, maar die munisipaliteit het versuim om enige betaling ten opsigte van die uitstaande paaiement te maak.

Gevolglik het Rand Water op 17 Junie die vermindering van die grootmaat drinkwatertoevoer in werking gestel nadat die twee partye nie ’n wedersyds aanvaarbare oplossing kon bereik nie.

Die besluit om die grootmaat drinkwatertoevoer met 20% te verminder was noodsaaklik om verdere eskalering van die munisipaliteit se skuld te voorkom, het Rand Water in sy verklaring gesê.

Die nutswatermaatskappy het ook bygevoeg dat Lesedi se skuld opgehoop het as gevolg van die munisipaliteit se versuim om sy verpligtinge ingevolge die ondertekende Grootmaatwatervoorsieningskontrak (BWSC) na te kom. Hoewel Rand Water by talle geleenthede skuldskikkingsvergaderings ingevolge die Skuldskikkingsooreenkoms (DSA) gehou het, het die munisipaliteit versuim om betalings ten opsigte van die uitstaande skuld te maak, het Rand Water benadruk

“Hierdie situasie is uiters onaanvaarbaar aangesien dit ’n bedreiging vir Rand Water se finansiële volhoubaarheid op medium- en langtermyn inhou. Dit is belangrik om daarop te wys dat Rand Water geen finansiële toekenning uit die nasionale fiskus ontvang nie. Dit beteken dat die instelling uitsluitlik afhanklik is van inkomste wat van sy kliënte, hoofsaaklik munisipaliteite, ingevorder word om aan sy wetlike verpligtinge te voldoen,” sê Rand Water in sy verklaring.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die organisasie nie sal toelaat dat sy finansiële stabiliteit in gevaar gestel word as gevolg van wanbetalende munisipaliteite nie. Finansiële volhoubaarheid sal verseker dat Rand Water sy wetlike verpligtinge kan bly nakom.

Rand Water het die verseker gegee dat hy verbind bly tot die diens van sy kliënte en die langtermyn voorsiening van grootmaat drinkwater aan al sy kliënte, met die gepaardgaande verantwoordelikheid om vir die diens te betaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button