Raad hoor vandag oor provinsiale ingryping by Ngwathe
Sedert die konstitusionele hofbeslissing op 2 Junie is daar groot onsekerheid by raadslede en inwoners van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor die pad vorentoe.
Die Vrystaatse LUR vir Departement Samewerkende Regering en Tradisionale Sake, Saki Mokoena sal vanmiddag om 12:00 tydens ‘n raadsvergaderng in die Forum-gebou die vereistes en voorwaardes van ‘n vroeëre hooggeregshofbeslissing vir provinsiale ingryping by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, en ontbinding van die raad, wat ook deur die konstitusionele hof bekragtig is, uiteensit.
Mokoena se besoek volg dae nadat die burgerregte organisasie AfriForum wat in Desember 2024 die dringende aansoek vir provinsiale ingryping tot die hof gerig het, vroeër die week dringende antwoorde van die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae, ge-eis het oor waarom die Vrystaat-regering voete sleep om uitvoering te gee aan die bevel van die hof.
Die organisasie se brief aan die premier is gerig nadat dit aan die lig gekom het dat die munisipale raad ’n begroting vir die nuwe boekjaar aanvaar het.
Die Vrystaatse Hooggeregshof het ‘n jaar gelede al op 20 Junie 2025 beslis dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor inwoners van Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville versuim het. Die provinsiale regering is toe beveel om ingevolge artikel 139(5) van die Grondwet in te gryp, ’n herstelplan te implementeer, die munisipale raad te ontbind, ’n administrateur aan te stel en ’n tydelike begroting op te stel en goed te keur.
Die bevel kon egter nog nie tot uitvoer gebring word nie nadat die Ngwathe munisipaliteit hom herhaaldelik eers tot die hooggeregshof, en daarna ook tot die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof gewend het met aansoeke om teen die hofbeslissing te appèlleer.

Konstitusionele Hof beslissing
Die regsstryd is finaal beeïndig toe die Konstitusionele Hof op 2 Junie Ngwathe se aansoek met koste van die hand gewys het om regter JP Daffue se oorspronklike beslissing finaal afdwingbaar te maak.
Hoewel die premier vroeër aangedui het dat die hofbevel sonder versuim uitgevoer sal word na die konstitusionele beslissing, lyk dit asof die munisipale raad steeds voortgaan om besluite te neem asof daar geen hofbevel bestaan nie” het Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum se Mooirivierstreek gesê.
Pretorius sê dit wek ernstige vrae oor die provinsiale regering se nakoming van sy grondwetlike verpligtinge en die oppergesag van die reg.
Premier moet antwoord
AfriForum eis in sy skrywe aan die premier dat daar teen 26 Junie skriftelik bevestig word watter stappe reeds gedoen is om die hofbevel uit te voer; wanneer die ingryping amptelik afgekondig gaan word; wanneer die munisipale raad ontbind en ’n administrateur aangestel sal word; en hoe die provinsie beoog om volle uitvoering aan die hofbevel te gee.
“Geen regeringsinstelling is bo die reg verhewe nie. Die hof het duidelike instruksies gegee oor wat moet gebeur om die krisis in dié munisipaliteit te takel. Die Vrystaatse regering moet nou wys dat hy die hof se gesag respekteer en bereid is om in die belang van inwoners op te tree,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.
Die hoop was dat Dinsdag se raadsvergadering antwoorde op baie vrae van raadslede en inwoners sou gee oor die pad vorentoe vir Ngwathe.
So moet die proses vir provinsiale ingryping verloop
Tammy Breedt, Vryheidsfront Plus LP, het vroeër by navraag van die Gazette verduidelik dat die provinsiale regering 14 dae na ‘n konstitusionele hof beslissing, kennis moet gee dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word.
Die vereistes en voorwaardes van administrasie en wie die uitvoerende verteenwoordiger sal wees, moet deur Mokoena, in sy hoedanigheid as Vrystaatse LUR van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, aangekondig word.
Wetgewing bepaal dat ‘n administrateur ‘n enkele persoon of ‘n span kan wees, sê Breedt.
Die provinsiale regering sal ook ‘n kennisgewing aan die voorsitter van die nasionale raad van provinsies stuur, wat dan verwys sal word na die gekose komitee van Cogta wat die Ngwathe-munisipaliteit sal besoek.
In praktiese terme beteken dit dat die administrateur dan aangestel word, die raad sy magte en bevoegdhede verloor en moet ontbind.
Met die munisipale verkiesing in November, is die tyd vir ‘n tussenverkiesing egter waar die tammeletjie inkom, verduidelik Breedt.
As dit kom by ‘n herverkiesing is Artikel 25(6)(a) en 25(6)(b) van die strukturewet van toepassing en sal ‘n finale beslissing hieroor na verwagting gemaak moet word.



