Die room van SA se boerboele by internasionale skou in Parys
Toegang vir beide dae by die AfriDome is gratis.
Parysenaars en besoekers aan die dorp het hierdie week geleentheid om die room van die land se boerboele van 55 telers uit alle provinsies te sien by die Suid-Afrikaanse Boerboel Telersgenootskap (SABBS) se internasionale skou. Die skou word Vrydag 26 Junie, en Saterdag 27 Junie by die AfriDome in Parys gehou.
‘n Totaal van sowat 308 boerboele sal beoordeel word deur twee internasionale, en twee Suid-Afrikaanse beoordelaars.

Volgens Lititia Kruger, voorsitter van SABBS sal die Junior-kampioenskapklasse Vrydag vanaf 08:00 tot 14:00 beoordeel word. Saterdag se program begin ook om 08:00. en sal Junior en Senior-klasse dan beoordeel word, met die hoogtepunt van die program – die aankondiging van Hond van die Jaar wat die middag plaasvind.
Kruger het mense genooi om te kom kennis maak met die trotse boerboel, SA se eie landras-hond. Dit is ‘n uitstekende geleentheid om te gesels met telers, te kyk na die honde wat gaan deelneem, en meer te leer oor hierdie ikoniese ras.

Besoekers van Europa en Amerika word by die skou verwag, en is daar selfs ‘n deelnemer uit Botswana.
Die Boerboeltelersgenootskap het 650 lede in bykans elke deel van die wêreld behalwe Antarktika.
Toegang vir beide dae is gratis vir besoekers. Kom ondersteun AfriDome en die SA Boerboeltelersgenootskap.
“Ons kan nie wag om julle hier te sien nie,” het Kruger gesê.



