Vlei-uil kry nuwe tuiste ná vlerk amputasie
Oor die afgelope maande het Parys WADER verskeie voëls opgeneem in rehabilitasie programme waaronder, naas die uile, ook watervoëls en roofvoëls.
Die gevlekte ooruil wat die afgelope maand met ‘n gebreekte vlerk in die sorg van Parys Wetland Avian Development and Emergency Rescue NPC (Parys WADER) was, is op 27 Junie vrygelaat in die Rooidam-omgewing met wat bekend is as ‘n sagte vrylating. Dit beteken dat die uil se hok oopgelos word sodat hy vry is om self uit te beweeg.
Volgens Marisa Louw het Parys WADER die uil op 7 April ingeneem en is hy kort daarna in Kroonstad deur dr. Willem Daffue geopereer om verbrokkelde been te verwyder. Die uil se beserings was egter van so aard dat die breuk nie chirurgies geheg kon word nie. Hy moes in Kroonstad agterbly sodat die veeartsenykundige personeel kon monitor of die bene met tyd sou heg.
Op 14 April kon die uil in Kroonstad gehaal word, en is daar sedertdien voortgegaan met sy rehabilitasie wat vlug-kondisionering ingesluit het, het Louw vertel.
Louw sê vlug-kondisionering word gedoen in samewerking met ‘n plaaslike Meester Falkonier om te verseker dat die uil sterk genoeg kon vlieg en weer suksesvol kon jag, voordat hy vrygelaat is.
Hy kan gereeld vroegaand en vroeg soggens in die Rooidam-omgewing gesien of gehoor word.
Intussen is nog ‘n gevlekte ooruil ook deur Parys WADER ingeneem. Die uil was baie swak en het net 326g geweeg met inname. “Sy normale gewig moet rondom 600g wees,” vertel Louw.

Vandeesweek het dié uil reeds 611g geweeg en is ook hy gereed om vrygelaat te word – waarskynlik oor die naweek, sodra daar sekerheid is dat hy selfstandig kan jag.
Die Vlei-uil wat op 12 April deur Parys WADER ingeneem is nadat dit vir ‘n onbekende tydperk in ‘n heining op ‘n plaas in die Fochville-omgewing verstrengel was, is nou gevestig by die African Raptor Centre in KwaZulu Natal.
“Vlei-uile se voortbestaan word deur verskeie faktore bedreig. Daarom was dit van kardinale belang om hom te red,” verduidelik Louw.

Die plaaswerkers wat hom van die heining losgekry het, het ongelukkig meeste van die spier op sy een vlerk saam met die draad afgeskeur.
Dr. Brigitta Wessels van Parys het die oorblywende weefsel om die been vasgewerk.
Na afloop van drie weke se wond-versorging was dit duidelik dat die vlerk nie gaan herstel nie en moes die vlerk geamputeer word.
Onder gewone omstandighede word ‘n dier wat nie vrygelaat kan word nie, op menslike wyse van kant gemaak, maar omdat die Vlei-uil se voortbestaan bedreig word, is daar deur ‘n rehabilitasienetwerk daarin geslaag om vir hom plek in die Natalse broeiprogram te kon kry nadat hy na die amputasie voldoende herstel het.
Oor die afgelope maande het Parys WADER verskeie voëls opgeneem in rehabilitasie programme waaronder, naas die uile, ook watervoëls en roofvoëls.
Jy kan ‘n bydrae maak tot die werk wat Parys WADER doen deur gebruik te maak van die volgende bankbesonderhede: Capitec Besigheidsrekening, Parys WADER, rekeningnommer 1054348650
Die publiek se hulp word ook gevra om Parys WADER te help om ‘n beter dieet vir die uile wat ingeneem word, te kan bied.
Mense wat met kwartels, muise of rotte teel, kan Louw skakel by 064 963 5386.



