‘Ek wil weet wat in my dorp gebeur’
Sedert die ontstaan van Parys het die dorp sy eie gemeenskapskoerant.
Sonder ‘n Gazette is ‘n Donderdag maar vaal. Daarvan kan die 74-jarige Sechaba Moahloli getuig. Op die sypaadjie in Buitenstraat sit hy oudergewoonte verdiep in die koerant in sy hande.
Hy woon sy lewe lank in Parys en is daar nie ‘n week wat hy nie die Gazette lees nie, vertel hy trots. “Ek lees hier wat aangaan in die dorp. ” vertel hy.

Die storie van Parys se koerant
Van die begindae van Parys is dié dorp se unieke karakter en stories in ink op papier vasgevang. Die oorspronklike lisensie van die destydse Parys Post is aan ‘n ene mnr. Norman Douglas Donaldson,
toegeken, en berig die Parys Post volledig oor die groei en ontwikkeling van die
dorp.
Soos die Parys Gazette vandag, was die koerant weekliks uitgegee. Later sou dit as die Noord-Vrystaatse Nuus bekend staan waarby die Parys Post ingelyf is. Om die koerant te koop het toe 3c gekos.
In die jare wat sou volg het die koerant weer naam verander, en toe bekend gestaan as die Parys Herald.
Frikkie Scheepers Sr wat vir jare Chrisset Drukkery in die dorp gehad het, het later die Noord-Vrystaatse Gazette begin, en die Parys Herald oorgeneem.
Daarna is die dorpskoerant se naam verander na Parys Gazette.
Baie Parysenaars sal die bekende gesig onthou van skoolkinders wat op ‘n Vrydag in die drukkery gehelp vou het aan koerantblaaie. Aanvanlik was die koerant in die drukkery met loodletters geset.
Daarna is begin om elke berig, advertensie en grafiese detail op A4 blaaie te druk en uit te sny, wat dan saam met die foto’s op die uitlegblaaie met was vasgesit en opgelyn is. Die beeld van die voltooide blaaie is op plaat vasgelê en in die drukkery op ‘n Heidelberg gedruk. Elke koerantblad is met die hand gevou en ingevoeg.
In 2 000 is die koerant aan MooiVaal Media verkoop, en is dit vandag deel van die Caxton-groep met 123
gemeenskapskoerante in sy stal, en 58 webtuistes met by die vier miljoen lesers maandeliks.
Oor die afgelope 26 jaar is tred gehou met ‘n vinnig veranderende digitale era, en is Parys Gazette naas die gedrukte weergawe op alle digitale platforms beskikbaar en bedien die dorpe Parys, Vredefort en Viljoenskroon.
‘n Koerant wat steeds die stories van ‘n dorp en sy mense vertel – of daar gespog word met skoolkinders se prestasies, berig word oor ons bejaardes, sportklubs, munisipale aangeleenthede of gemeenskapsnuus.
Daar word eerlik, akkuraat, maar ook met deernis berig om reg te laat geskied aan die belangrike rol wat die gemeenskapspers speel.
Min dorpe het nog die voorreg om ‘n eie koerant te hê, maar dié voorreg sien jy in menige winkel en selfs Parys se polisiestasie waar koerantberigte oor jare uitgeknip en vasgesit op kennisgewingborde en in albums ‘n plek gekry het.
Om die voorreg boonop week na week gratis te hê is ‘n selfs nog groter voorreg want iets wat jy gratis kry vandag is skaarser as hoendertande.



