AfriForum dreig met hofaansoek oor Vaalrivier-rioolstorting
Die rioolbesoedeling kom te midde van verskeie ander regsaksies teen die Emfuleni-munisipaliteit oor rioolbesoedeling elders in dié munisipaliteit.
AfriForum dreig met ‘n dringende hofaansoek as die Emfuleni Plaaslike munisipaliteit nie dringend die rioolprobleem oplos wat veroorsaak dat rou riool na bewering daagliks in die Vaalrivier invloei as gevolg van stukkende pompe.
Die burggerregte organisasie het op 22 Julie Emfuleni versoek om binne drie dae ’n volledige noodaksieplan voor te lê van wat die munisipaliteit beoog om te doen om die voortdurende rioolbesoedeling by pompstasies 8 en 10 in Drie Riviere, Vereeniging, onmiddellik stop te sit.
As die munisipaliteit versuim om te reageer sal AfriForum die hof op ’n dringende basis nader om die munisipaliteit te dwing om op te tree, het AfriForum vandeesweek gesê.

Die rioolbesoedeling kom te midde van verskeie ander regsaksies teen die Emfuleni-munisipaliteit oor rioolbesoedeling elders in dié munisipaliteit. Drie van hierdie sake is deur AfriForum geïnisieer en sal weer op 1 September voor die hof dien.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die situasie lankal nie meer bloot die gevolg van swak bestuur nie, maar eerder van volgehoue onbevoegdheid en die afwesigheid van aanspreeklikheid.
Grobbelaar sê dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers telkens die rekening moet optel wanneer die munisipaliteit weens sy eie versuim hof toe gesleep word. “Elke keer wanneer AfriForum die hof moet nader om die munisipaliteit te dwing om sy wetlike pligte na te kom, word openbare geld aangewend om die saak teen te staan. Dit beteken inwoners betaal twee keer, eers met hul belastinggeld vir dienste wat hulle nie ontvang nie en daarna weer vir die munisipaliteit se regskoste. Dit is eenvoudig onregverdig.”
AfriForum sê ook dat die organisasie wil sien dat individuele aanspreeklikheid ernstig oorweeg word sodat diegene wat verantwoordelik is vir volgehoue administratiewe versuim, ook persoonlik aanspreeklik gehou word waar die reg daarvoor voorsiening maak.
Volgens Grobbelaar is die omvang van die omgewingskade katastrofies. “Rou riool vloei reeds vir ’n geruime tyd onbehandeld in die Vaalrivier in. Hierdie besoedeling vernietig ’n strategiese waterbron waarvan miljoene mense afhanklik is en stel inwoners aan ernstige gesondheidsrisiko’s bloot. Dit is nie eenvoudig net ’n plaaslike diensleweringsprobleem nie, dit is ’n nasionale omgewingskrisis,” het hy gesé.
AfriForum het beklemtoon dat ‘n dringende hofaansoek nie daarop gemik is om skadevergoeding te eis nie, sou Emfuleni nie binne die volgende drie dae daadwerklik optree nie. “So ‘n hofaansoek sal wees om die munisipaliteit te dwing om sy grondwetlike en wetlike verpligtinge na te kom en die voortdurende rioolbesoedeling onmiddellik te beëindig,” het AfriForum gesê.
“Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het oor die jare bewys dat hy nie in staat is om kritieke water- en rioolinfrastruktuur behoorlik te bestuur nie. Dit is tyd dat die regering ernstig begin kyk na alternatiewe bestuursmodelle waar bevoegde gemeenskapsinstellings en ander geskikte rolspelers ’n groter rol kan speel in die bestuur en instandhouding van hierdie noodsaaklike infrastruktuur,” et Grobbelaar gesê.



