‘n Huis en arms vol liefde vir Mira
Mira se naam is kort vir miracle, want haar storie is inderdaad 'n wonderwerk.
Mira draf stertswaaiend hek toe om te groet. Dan kry sy haar lê by die voete van haar nuwe eienaar, Koekie Cronje. Jy sien dadelik die onafskeidbare band tussen die jong bokser-kruis tefie en haar nuwe eienaar.
Hierdie is nie net huis vir Mira nie – dis ‘n tuiste waar sy veilig, rustig en gelukkig is.
Mira se naam is kort vir miracle, want haar storie is inderdaad ‘n wonderwerk.

Mira het op 7 Junie by die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) beland. Sy was baie siek en ondervoed, vermoedelik ná maande se rondswerf sonder ‘n heenkome, maar met ‘n ongelooflike wil om te oorleef.
Sy is die eerste keer op 1 Junie deur ‘n lid van die Parys Area Vermiste Dieregroep opgemerk. Danksy die uitstekende samewerking tussen lede van die groep het nog een van die groeplede daarin geslaag om ‘n foto van haar te neem. Melinda Lessing het haar uiteindelik in die Oudewerfpark-omgewing gevind.
Mira (die naam wat die vroue van die dieregroep aan haar gegee het) was bang en verwilderd, maar Melinda het haar vertroue geleidelik gewen en die DBV-personeel ontbied om haar te kom haal.
Omdat daar vermoed is dat Mira waarskynlik langs die R59 verlore geraak het, is daar sedert sy gevind is, baie moeite gedoen om haar eienaars op te spoor, maar sonder sukses.
Mira se storie het Koekie wat ook ‘n lid van die Vermiste Dieregroep is, van die begin van die plasings op die groep, diep geraak. “Elke keer het my hart geruk en wou ek huil oor Mira,” vertel sy.
Toe die soektog na ‘n nuwe tuiste vir Mira begin, het Koekie aansoek gedoen om haar aan te neem. Verlede Donderdag het Mira na haar sterilisasie en entings, huis toe gekom – hier by Koekie waar sy ‘n nuwe tuiste gevind het. Salig gelukkig. en ‘n pragtige, gesonde, lewenslustige hond.

Dit danksy die omgee van mense en die liefdevolle sorg van die DBV wat Mira ‘n tweede kans op geluk gegee het.
So werk die proses van aannneming by die DBV:
- Sodra jy besluit het op die troeteldier van jou keuse wat jy graag wil aanneem, word ‘n aansoekvorm voltooi.
- DBV-personeel sal dan ‘n tuisbesoek doen om seker te maak dat die nuwe tuiste voldoen aan die spesifieke behoeftes van die troeteldier waarop jy besluit het. So byvoorbeeld sal sekere honderasse groter beweegspasie nodig hê.
- Daarna sal die hond/kat gesteriliseer en ge-ent word voordat hulle by hul nuwe tuiste geplaas word.
Jy kan die DBV skakel by 072 894 4061 vir meer besonderhede oor aanneming.
Wanneer ‘n troeteldier verlore raak
- Kontak jou plaaslike DBV en veeartse in die omgewing met die besonderhede van die dier, en jou besonderhede sou die dier gevind word.
- Maak seker jou hond dra ‘n naamplaatjie of het ‘n mikroskyfie waarmee hy/sy geïdentifiseer kan word.
Die DBV het jou nodig
Die DBV doen werk van onskatbare waarde in jou gemeenskap, maar ook in omliggende dorpe en ontvang geen befondsing. Die tak is uitsluitlik afhanklik van ‘n gemeenskap om te kan voortbestaan.
Geldelike skenkings vir die DBV kan inbetaal word by:
Parys SPCA
Standard Bank
Tjekrekening 040 947 882.
Stuur die bewys van betaling na 072 594 4061.



