Minister stel aanlynstelsel bekend om bek-en-klouseer-inentings te bespoedig
Volgens minister Aucamp sal die data wat deur die nuwe verslagdoeningstelsel ingesamel word, ook die regering in staat stel om die vordering van die nasionale inentingsprogram te kan monitor
Die minister van landbou, Willie Aucamp, het ‘n nuwe aanlyn magtigingstelsel bekendgestel wat vee-eienaars in staat stel sal om vinniger toestemming te kry om hul vee teen bek-en-klouseer (BKS) in te ent.
Die nuwe self-inentingsportaal is daarop gemik om Suid-Afrika se verdediging teen bek-en-klouseer te versterk deur die administratiewe proses te vereenvoudig en vinniger reaksie op moontlike uitbrekings van die siekte moontlik te maak.
Volgens minister Aucamp gee die stelsel boere groter beheer deur hulle toe te laat om amptelike goedkeuring te verkry om hul eie diere in te ent.
Veeboere kan op die BKS-verslagdoeningsportaal registreer, waar stap-vir-stap-riglyne beskikbaar is. Die stelsel is ontwerp om aan biosekuriteitsvereistes en wetlike voorskrifte te voldoen, insluitend naspeurbaarheid en die rapportering van alle toegediende entstowwe.
Drie-stap proses
Die proses bestaan uit drie fases:
1. Aansoek om ‘n “Gemagtigde Persoon” te word
Eienaars en bestuurders van vee kan deur die aanlyn BKS-verslagdoeningstelsel aansoek doen om as ‘n “Gemagtigde Persoon” goedgekeur te word. Sodra hulle goedgekeur is, mag hulle ingevolge die wet die bek-en-klouseer-entstof aan hul eie vee toedien.
2. Kennisgewing van voorneme om in te ent
Nadat goedkeuring ontvang is, moet die gemagtigde persoon die Provinsiale Direkteur: Veeartsenydienste of die toepaslike staatsveearts minstens vyf dae voor die beplande inenting in kennis stel van die voorneme om in te ent. Hierdie kennisgewing kan aanlyn of skriftelik ingedien word.
Ná die kennisgewing kan die nodige entstof by ‘n gemagtigde veearts in die betrokke gebied verkry word.
3. Indiening van ‘n inentingsverslag
Binne 14 dae nadat die entstof toegedien is, moet die gemagtigde persoon ‘n verslag aan die plaaslike staatsveearts indien. Die verslag moet besonderhede bevat van die diere wat ingeënt is, die entstof wat gebruik is en die ligging van die plaas waar die inenting plaasgevind het. Die terugvoer kan elektronies of skriftelik ingedien word.
Privaat platforms ook beskikbaar
Veeboere en plaasbestuurders kan ook van goedgekeurde privaat aanlyn platforms gebruik maak, waaronder dié van RMIS, SAAI en Buffalo Analytics.
Alle inligting wat deur hierdie derdeparty-platforms ontvang word, sal met die Departement van Landbou gedeel en op die departement se stelsel opgelaai word. Veeboere bly egter verantwoordelik om seker te maak dat die platform wat hulle gebruik deur die Direkteur van Dieregesondheid goedgekeur is.
Volgens Aucamp sal die data wat deur die nuwe verslagdoeningstelsel ingesamel word, die regering in staat stel om die vordering van die nasionale inentingsprogram te monitor en betroubare, opgedateerde inligting aan die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) te verskaf.
Samewerking
Hy het bygevoeg dat die departement steeds daartoe verbind is om samewerking met die landbousektor te versterk en ‘n verenigde werkswyse te vestig wat die ondersteuning van alle belanghebbendes verwelkom.



