Die Wilgers van Parys: Lewende monumente van ‘n vergete bedryf
Vandag kan oplettende natuurliefhebbers steeds afstammelinge van hierdie oorspronklike aanplantings tussen die treurwilgers langs die rivier uitken.
Parys is bekend vir sy statige ou treurwilgers wat al dekades lank op poskaarte en foto’s van ons skaduryke rivieroewers en eilande pryk. Min mense besef egter dat daar verskeie wilgerspesies in en om die dorp voorkom, waarvan sommige ‘n besondere en nostalgiese geskiedenis vertel wat terugdateer na die vroeë jare van Parys se ontstaan.
Die meeste wilgers (Salix-spesies) wat in die omgewing groei, is afkomstig van die Noordelike Halfrond. Verskeie van hulle is vandag as uitheemse indringerplante verklaar, insluitend die ikoniese treurwilger (Salix babylonica). Tog beskik die Vaalrivier ook oor ‘n pragtige inheemse spesie, die Kaapse wilger (Salix mucronata), wat steeds volop langs die rivier groei. Soos baie ander lede van die wilgerfamilie het hierdie boom ‘n lang geskiedenis as medisinale plant. Die bas bevat natuurlike salisilate, die verbinding waaruit aspirien uiteindelik ontwikkel is, en is tradisioneel gebruik vir die behandeling van pyn, koors en ontsteking.
Die verhaal van Parys se wilgers is egter veel meer as net een van natuurskoon. Dit is ook die verhaal van hoop en ekonomiese herstel ná die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog. Teen die begin van die twintigste eeu het baie gesinne in groot armoede geleef. Om werk te skep en mense met praktiese vaardighede toe te rus, is ‘n mandjie- en rottangbedryf in Parys gevestig.
Een van die dryfkragte agter hierdie inisiatief was mnr. T. Leach, wat die potensiaal raakgesien het om wilgerverbouing en mandjievlegwerk as ‘n plaaslike nywerheid te ontwikkel. Onder sy leiding is mense opgelei in die kuns van mandjievleg, terwyl geskikte wilgerspesies aangeplant is om ‘n volhoubare bron van grondstowwe te verseker. Hierdie projek het nie net werk geskep nie, maar ook nuwe inkomste vir talle gesinne gebied gedurende ‘n tyd toe ekonomiese geleenthede uiters beperk was.
Vir hierdie doel is ‘n sogenaamde Ozier-plantasie aangelê in die omgewing van die huidige Oranjestraat, naby die voormalige Mimosa Hengelklub. Die naam “ozier” verwys na wilgers wat spesiaal gekweek word vir hul lang, buigsame lote wat ideaal is vir mandjievlegwerk.
Onder die spesies wat daar aangeplant is, was Salix × fragilis, Salix lucida en Salix caprea. Saam met ingevoerde rottang het hierdie wilgers die grondslag gevorm vir ‘n bloeiende plaaslike bedryf. Die mandjiefabriek, wat in die huidige Fabriekstraat gevestig was, het vinnig bekendheid verwerf vir die uitstekende gehalte van sy produkte.
Mandjies, meubels en ander gevlegte artikels is nie net plaaslik verkoop nie, maar ook na ander dele van Suid-Afrika versprei. Die fabriek het werk aan talle inwoners verskaf, en het vir ‘n tyd lank ‘n betekenisvolle bydrae gelewer tot Parys se ekonomiese ontwikkeling.

Vandag getuig mandjies en ander gevlegte produkte, wat steeds in uitstekende toestand bewaar word, van die vakmanskap waarvoor die fabriek bekend was. Met verloop van tyd het die vraag na handgevlegte produkte afgeneem, en die fabriek het uiteindelik sy deure gesluit. Die Ozier-plantasies is verwaarloos en het geleidelik in onbruik verval.
Die wilgers is later hoofsaaklik vir vuurmaakhout benut, terwyl sommige hulself langs die Vaalrivier gevestig het.
Vandag kan oplettende natuurliefhebbers steeds afstammelinge van hierdie oorspronklike aanplantings tussen die treurwilgers langs die rivier uitken. Sommige het oor die jare met ander wilgers gekruis en vertoon vandag heeltemal anders as hul oorspronklike voorouers. Daar bestaan steeds tasbare oorblyfsels van die oorspronklike Ozier-plantasie in Oranjestraat.
Benewens die uitheemse reusriet (Arundo donax), wat destyds ook vir vlegwerk benut is, staan daar nog drie indrukwekkende voorbeelde van Salix × fragilis. Indien hierdie bome nie deur natuurlike vegetatiewe vermeerdering hulself oor die jare “gekloon” het nie, kan hulle moontlik reeds sowat 120 jaar oud wees.
Dit sou hulle onder die oudste aangeplante bome in die Parys-omgewing plaas – stille getuies van ‘n bedryf wat eens hoop, werk en voorspoed vir die dorp gebring het.


Vandag bevind Suid-Afrika hom weer in ‘n tyd waarin armoede en werkloosheid baie gemeenskappe swaar tref.
Terwyl die eeu-oue wilgers steeds stil wag hou langs die rivier, herinner hulle ons aan ‘n tyd toe vernuwende denke, harde werk en gemeenskapsamewerking gehelp het om nuwe geleenthede te skep.
Miskien lê daar juis in hierdie geskiedenis ‘n waardevolle les: dat plaaslike ondernemings, vaardigheidsontwikkeling en die volhoubare benutting van natuurlike hulpbronne steeds ‘n belangrike rol kan speel in die opbou van gemeenskappe en plaaslike ekonomieë.





