Biodiversiteit – dis daardie ‘connectedness’
Mense loop dikwels verby dinge en besef nie hoe belangrik bewaring is nie.
Een van die besondere kenmerke van die Vredefort Koepel is sy ekologie en groot biodiversiteit verskeidenheid wat verskillende habitatte en mikro-habitatte insluit. Dit is juis wat in 2024 gelei het tot ‘n spontane inisiatief vir ‘n ambisieuse projek wat saam met ekoloog Renier Terblanche aangepak is om die Koepel se fauna en flora te lys vir bewaring en bewusmaking van dié gebied.
As jy praat van die Vredefort Koepel is dit die geologiese waarde van die gebied wat dikwels beklemtoon word, maar die habitat verskeidenheid en mikrobiologie wat ons hier sien, maak van die Koepel so ‘n interessante plek,” sê Terblanche. Dit is immers hier in die hart van die Koepel wat jy iets van die bosveld, die grasveld wat ook ‘n bedreigde ekosisteem is, vleiland en dan ook die Vaalrivier sien, wat ‘n besoek hier beslis die moeite werd maak.
Met meer as 60 soogdierspesies, meer as 300 voëlspesies, meer as 30 reptielspesies, meer as tien visspesies in die Vaalrivier, en meer as 110 skoenlapperspesies wat alreeds in die Vredefort Koepel geïdentifiseer is, is hierdie ‘n natuurwonder op jou voorstoep.
Tog loop mense dikwels verby dinge en besef nie hoe belangrik bewaring is nie, sê Terblanche.
Kom luister op 20 Augustus wanneer Terblance met sy verstommende natuurkennis inspirerende insigte kom deel oor die ryk en unieke biodiversiteit van hierdie buitengewone wêrelderfenisgebied tydens ‘n byeenkoms van die Vredefort Koepel Bewarea by Thabela Thabeng in die hart van die Vredefort Koepel.
As habitatspesialis in plant- sowel as dierkunde het Terblanche wat bekend is as die ‘skoenlapperman’, met sy kennis onder meer gehelp om die raamwerk te skep vir die identifisering en beskrywing van verskeie spesies in die Vredefort Koepel.

“Maak nie saak watter kenner jy is nie, daar is altyd iets wat jy nie geweet het nie. Ons sien soveel foto’s, maar elke spesie wat jy sien het ‘n bepaalde plek. Dit is waaroor biodiversiteit gaan. Daardie connectedness.”

Die praatjie begin om 18:00. Bewarea-lede kan gratis bywoon. Koste vir nie-lede is R80 per persoon wat kerrie-en-rys en koffie en tee insluit.
Bring jou gesin en vriende en kom geniet ‘n aand van samesyn, heerlike kos en ‘n blik op die Vredefort Koepel wat jou verstom sal laat.
Bevestig bywoning teen 18 Augustus by Nicolette by 083 265 6245.



