Dit is wat Parys ‘n gewilde toeriste-bestemming maak
Hier kry besoekers nie net inligting nie, maar leer jy ook die dorp, sy geskiedenis en sy mense ken.

Die akkommodasiefasiliteite in en om Parys, die Vredefort-koepelwêrelderfenisgebied wat gereken word as die oudste en duidelik sigbaarste impakkrater ter wêreld, asook die verskeidenheid avontuurtoerismeaktiwiteite – van perdry en zipline tot vierwielmotorfietsroetes en witwaterroei – is van die redes wat toeriste na Parys lok.
Volgens statistiek van Parys Info & Tourism is die dorp steeds een van die gewildste naweek- en vakansiebestemmings in die land. Gedurende Julie alleen is 62 oproepe, en 257 instapbesoekers deur die sentrum ontvang, en dit blyk dat somertye en skoolvakansies die besigste tye vir die toerismebedryf in dié Vrystaatse dorp aan die soom van die Vaalrivier is.
Die dorp se plattelandse hartlikheid, verskeidenheid unieke winkels wat jy nêrens anders sal kry nie, restaurantverskeidenheid en sentrale ligging staan uit wanneer dit kom by redes waarom mense steeds Parys verkies as ’n naweekbestemming, of om langer hier te vertoef – of jy nou van avontuur hou of sommer net ’n lekker wegbreek van die stadsgewoel nodig het.
Akkommodasie langs die rivier blyk die gewildste te wees, terwyl die meeste toeriste aangedui het dat besoekers se belewenis van die dorp een van die grootste advertensies vir Parys se toerismebedryf is.
Sedert Oktober 2025 spog die dorp boonop met ’n splinternuwe baadjie vir sy inligtings- en toerismesentrum in Parys se hoofstraat wat veel meer as net inligting aan besoekende toeriste bied. By dié sentrum kry besoekers reeds hul eerste kennismaking met die hart van Parys – sy mense.
Die vriendelike personeel is daarop ingestel om seker te maak dat daar in elke behoefte van die toeris voorsien word – hetsy dit verblyf, aktiwiteite of noodsaaklike dienste is.

Vredefort Koepel
’n Pragtige uitstalling gee besoekers agtergrond oor die unieke biodiversiteit, natuurskoon en geologiese wonder van die Vredefort-koepel, met ’n uitsonderlike visuele uitstalling. Danksy die kleurvolle en interaktiewe uitstalling van die Vredefort Koepel, sal jy verstaan hoekom die gebied se natuurskoon, en geologie so uitsonderlik is.


Leer ken die dorp se geskiedenis en sy mense
Jy kan ook hier meer te wete kom van die dorp se geskiedenis, en waar beter om die dorp se karakter en mense te leer ken as by die dorp se eie plaaslike koerant, Parys Gazette, se kantoor, wat ook hier gevestig is, Eersdaags sal Parys Tourism Radio ook op die Parys Info & Tourismperseel gevestig wees.

Kuns
Kom kry ’n blik op die talent van die dorp se vele kunstenaars met ’n kunsuitstalling deur die Parys Arts Association, met werke van plaaslike kunstenaars wat hier besigtig kan word.
Bemarkingsgeleentheid en boeremark
Die sentrum bied bemarkingsgeleenthede vir plaaslike sakelui en selfs ’n boeremark word maandeliks hier gehou.
Staproetes
As jy lus is vir ’n uitsonderlike uitdaging, doen hier navraag oor die Koepel se eie Crater Camino-staptog, wat jou na jou asem sal laat snak oor die natuurskoon van dié roete, of verken die splinternuwe Geo-roete, waar jy met ’n begeleide staptoer ook die Koepel se geologiese wonders van nader kan bekyk.
Jou eerste stop
Weinig toeriste eindig hul besoek aan Parys by die toerismesentrum. Veel eerder is dit die eerste stop vir ’n onvergeetlike besoek aan dié rivierdorp. Of jy al vir jare in die dorp woon of net vir ’n naweek kom asem skep in dié omgewing, kom loer in van Maandae tot Vrydae van 08:30 tot 16:00 en Saterdae van 09:00 tot 13:00. Dis ’n moderne, interaktiewe belewenis wat jou alles van Parys vertel.

Kontakbesonderhede:
Skakel 056 811 4000, of
WhatsApp (na-ure) 067 278 2860
E-pos: info@parysinfoandtourism.co.za
Webtuiste: https://parysinfoandtourism.co.za/



