Graanprodusente neem oproep vir billike sojaboonprysontwikkeling na Effektebeurs
Deelnemers aan vandag se protes het ook sakke mieliemeel gedra as ’n simboliese herinnering daaraan dat volhoubare primêre produksie uiteindelik voedselsekerheid onderlê.
Suid-Afrikaanse graanprodusente het vandag hul oproep vir billike en deursigtige sojaboonprysontdekking na die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) geneem, toe Graan SA sy petisie en memorandum formeel oorhandig het waarin die besluit om na ’n enkele sojaboonverwysingspunt terug te keer, teengestaan word.
Graan SA-leierskap, raadslede en produsente het aan ’n vreedsame optog deur Sandton deelgeneem voordat die dokumente by die JSE se kantore in Gwen Lane aan JSE-verteenwoordigers oorhandig is.
Die petisie, wat deur 965 handtekeninge en 511 ondersteunende kommentare gesteun is, doen ’n beroep op die JSE om sy besluit te heroorweeg, ’n deursigtige en bewysgebaseerde hersiening te doen, en ’n prysontdekkingstelsel te aanvaar wat werklike graanbewegings en fisiese markwerklikhede beter weerspieël.“Vandag het produsente hul standpunt op ’n vreedsame maar ferm wyse duidelik gestel,” sê Richard Krige, Voorsitter van Graan SA.
“Dit gaan nie bloot oor een verwysingspunt nie. Dit gaan daaroor of die stelsel die werklikhede van die fisiese mark weerspieël en of produsente vertroue kan hê dat besluite wat hul besighede raak, op deursigtige bewyse gegrond is.”
Graan SA hy bly bekommerd dat die besluit om die Meervoudige Verwysingspuntmodel te verwerp nie deur voldoende kwantitatiewe bewyse ondersteun is nie en dat die ooreengekome evalueringskriteria nie voldoende aangespreek is nie.

Foto: Graan SA
’n Terugkeer na ’n enkele verwysingspunt kan lei tot vervoerverwante aftrekkings wat hoofsaaklik op afstand vanaf daardie punt gegrond is, sonder dat streeksaanbod, -vraag en die werklike beweging van sojabone voldoende in ag geneem word.“Doeltreffende markte vereis geloofwaardige prysontdekking,” sê dr. Tobias Doyer, Hoof Uitvoerende Beampte van Graan SA.
“Ons standpunt bly dat die metodologie moet weerspieël waar graan geproduseer word, waar die vraag bestaan en hoe graan werklik deur die mark beweeg. Onnodige ondoeltreffendheid skep uiteindelik koste êrens in die waardeketting.”
Deelnemers aan vandag se protes het ook sakke mieliemeel gedra as ’n simboliese herinnering daaraan dat volhoubare primêre produksie uiteindelik voedselsekerheid onderlê. Die mieliemeel is ná afloop van die geleentheid aan liefdadigheidsorganisasies geskenk.
Graan SA het na afloop van die protesoptrede gesê dit bring nie die aangeleentheid tot ’n einde nie. Die organisasie sê hy gaan voort met sy tegniese voorleggings en skakeling, en gaan ook voort met regstappe, insluitend ’n dringende aansoek wat daarop gemik is om die implementering van die besluit te voorkom terwyl die aangeleentheid deur toepaslike prosesse betwis word, met die doel om produsentebelange te beskerm en ’n meer doeltreffende en deursigtige uitkoms te verseker.



