R5 miljoen-bewaringsbevel verkry oor gesteelde platinum
Die platinum is na bewering by 'n myn in Rustenburg gesteel.
Die Valke se Gespesialiseerde Prioriteitsmisdaadondersoekeenheid, in samewerking met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Eenheid vir Bates wat Verbeurd verklaar kan word (AFU), het ’n bewaringsbevel ter waarde van R5 miljoen bekom wat verband hou met die beweerde diefstal van platinum in Rustenburg.
Die platinum is glo by ‘n myn in Rustenburg gesteel en na Brits vervoer.
Ses verdagtes is in Augustus 2024 in Rustenburg en Brits deur lede van die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoekeenheid in hegtenis geneem vir die onwettige handel en besit van die platinum ter waarde van sowat R350 miljoen.
Die bewaringsbevel wat deur die Noordwes-afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika toegestaan is, sluit ’n gedeelte grond in Rustenburg in, asook 20 voertuie wat aan een van die verdagtes behoort.
Die Noordwes-provinsiale hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek en die Direkteur van Openbare Vervolgings in Noordwes, dr. Rachel Makhari, het die Valke se Gespesialiseerde Prioriteitsmisdaadondersoekeenheid en die NVG se AFU geloof vir hul pogings om die bewaringsbevel te bekom.



