Parysenaar kry Afri-Indie nominasie
Die Afri-Indie Musiektoekennings vereer jaarliks die beste onafhanklike musiekwerke in Suid-Afrika.
Plaaslike musiekvervaardiger, Enrique van Wyngaardt (Snacci), sy mede-vervaardiger Victor Snyman (ShokBasse) en Donovan de Bruin (Slamma D) wat die vocal gedoen het, is genomineer vir vanjaar se Afri Indie-musiektoekennings in die kategorie Beste Elektroniese Dansmusiek.
Dit is die eerste keer dat hulle ‘n nominasie vir diê gesogte toekennings gekry het wat Dinsdag by die AfriForum-teater in Pretoria oorhandig is.
Die nominasie is vir die enkelsnit, Obsessie, wat in Mei vanjaar vrygestel is.
Enrique se musiektalent is gevorm deur sy oupa wat hom as kind leer orrel speel het. Sy droom was om ‘n kitaar te hê, en onderneem sy pa om vir hom ‘n kitaar te koop as hy 40 liedjies op die orrel kon speel.
Drie maande later het Enrique, wat geen formele musiekopleiding het nie, dit reggekry, en was die kitaar syne.

In grendeltyd het Enrique terwyl hy werk gesoek het, verveelde ure omgekry deur musiek te vervaardig. Aanvanklik was dit remixes van bekende Afrikaanse liedjies. Daarna het oorspronklike produksies in Afrikaans gevolg met elektronies sintetiese klanke.
Sy grootste treffer saam met Slamma D was Net jou lyf wat in 2023 vrygestel is, en meer as ‘n miljoen keer op YouTube geluister is, en 800 000 keer op Spotify gestroom is.
Afri Indie-toekennings
Die Afri-Indie Musiektoekennings vereer jaarliks die beste onafhanklike musiekwerke in Suid-Afrika.
Volgens organiseerder, Rea le Roux, was die standaard van die werke wat vanjaar ingeskryf is, die hoogste nog.
Genomineerdes wissel van groot name soos Bobby van Jaarsveld, Robbie Wessels, Willem Botha, Franja du Plessis en Ruan Josh se onafhanklike werke, tot nuwelinge soos ATKV-Crescendo sterre Lizl, Selby Williams en Lucia Poggenpoel.
Jong kunstenaars soos Alba Vorster , Zonnebloem, en Anke het ook gewys dat daar ‘n golf van jong talent die mark betree, sê Le Roux.
Zaan Sonnekus het gepronk met ses nominasies.
Dié jaar se Lewenslange Toekennings het gegaan aan populêre groot musieklegendes Blackie Swart, PJ Powers en Dr Victor van Dr Victor & the Rasta Rebels.
Die sangeres Nadine is vereer vir haar 30 jaar bydrae tot die SA musiekbedryf, en die pop country sanger Cordelia vir haar 20 jaar bydrae tot die bedryf.
Ander groot name op die 2026 nominasielys was Jennifer Zamudio, die gospel legendariese Groep Tree 63, asook Grammy-wenner Mauritz Lotz wie se werk saam met Marius-Small Smith van wêreldgehalte is, sê Le Roux.
Afri-Indie in samewerking met Ontbytsake en Rug-teen-Rug Musiek kykNet het dié platform opgebou tot een van Suid-Afrika se hoë profiel musiektoekenningsplatforms.



