Veiligheid, eiendomsreg en water staan sentraal by TLU SA-kongres
TLU SA se kongresvoorstelle het grond en water as strategiese hulpbronne beklemtoon wat vir toekomstige voedselproduksie beskerm moet word.
Landelike veiligheid, eiendomsreg, ekonomiese volhoubaarheid en die beskerming van Suid-Afrika se grond- en waterhulpbronne was sentraal tot gesprekke tydens TLU SA se jaarlikse kongres wat vandag, 2 September, in Pretoria gehou is.
Onder die tema Landbou: Begrond. Beskerm. Bewaar. het landboukundiges, rolspelers en TLU SA-lede saamgekom om die uitdagings vir kommersiële landbou en die toekoms van voedselproduksie te bespreek.
Die kongres het sterk klem gelê op die rol van die staat om veiligheid, regsekerheid en ’n ekonomiese omgewing te skep waarin boere en ander ondernemings volhoubaar kan funksioneer.
Plaasveiligheid en eiendomsreg
Professor Jannie Rossouw van die Wits Besigheidskool en Ian Cameron van die parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie het onder meer die uitdagings rondom landelike veiligheid, beleggersvertroue, korrupsie en staatsvermoë bespreek.
TLU SA het voorgestel dat sterker samewerking met ander rolspelers gevestig word om eiendomsreg te beskerm. Die organisasie se Ekonomiese Komitee sal ook voortgaan om na minder administratiewe rompslomp vir produsente te streef.
Wat veiligheid betref, is voorgestel dat volgehoue druk op die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag gehandhaaf word om tekortkominge aan te spreek, personeel beter toe te rus en op te lei en aanspreeklikheid te versterk.
Die bekamping van korrupsie en rampokkery is eweneens as ’n prioriteit geïdentifiseer.
Die kongres het verder aandag gegee aan die rol van plaaswagte en ander private veiligheidstrukture, die moontlike herinstelling van die reservistestelsel en sterker parlementêre toesig oor die toepassing van die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie.
Grond en water onder druk
Waterbeskikbaarheid en watergehalte was ’n verdere belangrike fokus.
Hanke du Toit van SAWUA en adv. Stefanie Fick van OUTA het tydens die paneel oor “Bewaar” onder meer die impak van swak munisipale rioolbestuur, nywerheidsbesoedeling en mynbou op Suid-Afrika se waterbronne bespreek.
Vir landbou is water ’n noodsaaklike produksiehulpbron, terwyl gemeenskappe se daaglikse welstand eweneens van betroubare toegang tot geskikte water afhanklik is.
TLU SA se kongresvoorstelle beklemtoon daarom grond en water as strategiese hulpbronne wat vir toekomstige voedselproduksie beskerm moet word.
Landbou kan groei dryf
Landbouminister Willie Aucamp het in sy boodskap aan die kongres landbou as ’n roeping beskryf en sy bereidwilligheid beklemtoon om met die sektor saam te werk.
“Die ‘ons wil grond hê’-ideologie plant nie mielies nie,”
het hy gesê en boere aangemoedig om te fokus op dit waarin hulle goed is.
Sakeman Rob Hersov het landbou as een van Suid-Afrika se groot groeigeleenthede beskryf.
Volgens hom is betroubare infrastruktuur, doeltreffende waterstelsels en hawens, regsekerheid en marktoegang noodsaaklik om winsgewende boerdery en verdere investering te ondersteun.
Hy het ook ’n sterker burgerlike samelewing en groter openbare deelname bepleit om staatsinstellings tot beter dienslewering en aanspreeklikheid te dwing.
Jongboere moet die toekoms dra
Clemens Senekal, voorsitter van TLU SA se Jongboerekomitee, het die organisasie se jongboervisie uiteengesit.
Hy het gepleit vir ’n sterk, professionele en georganiseerde jongboerstruktuur waarbinne kennis, tegnologie en innovasie gedeel kan word om winsgewende en volhoubare boerderye te bevorder.
Die doel is om jongboere byeen te bring, sakegeleenthede te ontwikkel en gesamentlik oplossings vir uitdagings in die landbou te vind.
“Winsgewende boere is noodsaaklik”
TLU SA-president Henry Geldenhuys het in sy presidentsrede die verband tussen winsgewende boerdery en voedselsekerheid beklemtoon.
Hy het onder meer die behoefte aan toepaslike landboufinansiering, billike graanprysvorming, marktoegang en beskerming teen misdaad en biosekuriteitsbedreigings uitgelig.
Geldenhuys het ook kritiek uitgespreek op beleid wat volgens hom kundigheid, belegging en produsente se langtermynvolhoubaarheid benadeel.
Hy het verder aangekondig dat TLU SA se regspan gereed staan om as amicus curiae, oftewel ’n vriend van die hof, ondersteuning te bied in ’n voorgenome saak waarin ’n netwerkvennoot rasgebaseerde wetgewing wil betwis.
Die kongres se besluite sal nou die rigting van TLU SA se beleids- en organisasiewerk bepaal.
Die kernboodskap van die kongres was duidelik: produsente moet beskerm word, landbou moet ekonomies volhoubaar wees en die grond en water waarop toekomstige voedselproduksie berus, moet vir die volgende geslag bewaar word.



