Local newsNews

Vrystaat Landbou-insette dra by tot swaarder veediefstalvonnisse

n Beroep is ook weer op produsente en landelike gemeenskappe gedoen om veediefstal en verdagte aktiwiteite aan die SAPD te rapporteer en om met plaaslike veiligheidsstrukture saam te werk.


Die onlangse vonnisoplegging van 15 jaar direkte gevangenisstraf wat aan die 43-jarige Ompie Gert Thaele opgelê is nadat hy skuldig bevind is aan die diefstal van 63 skape in die Soutpan-gebied in April 2024, beklemtoon die belangrike rol wat Vrystaat Landbou speel in die versterking van die strafregtelike hantering van veediefstal.


Volgens dr Jane Buys, Veiligheids Risiko-analis van VL, was Thaele die hoofbeskuldigde in die saak waarin vier van die 63 skape destyds geslag is, terwyl die karkasse en die oorblywende 59 skape later herwin is.

Volgens Buys het drie van die vier beskuldigdes staatsgetuies geword nadat hulle skuldig gepleit het. Hulle is ongeveer ’n jaar gelede elk tot 24 maande gevangenisstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is.

Thaele, wat tydens die verloop van die saak versuim het om hofverrigtinge by te woon, isingevolge ’n lasbrief deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in hegtenis geneem. Hy het ook vorige veroordelings vir veediefstal.

Buys sê dat die staatsaanklaer strafverswarende getuienis aan die hof voorgelê het wat die omvang en ernstige impak van veediefstal beklemtoon het.

Veediefstal word tans deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat as ’n prioriteitsmisdaad beskou.

VL se betrokkenheid by sterker vervolging van veediefstal


Vrystaat Landbou speel ’n aktiewe rol in die versterking van die strafregtelike hantering van veediefstal. Sedert 2025 lewer VL, deur sy veediefstalverteenwoordiger, me. Isabel Kruger, waardevolle getuienis, okumentasie en praktiese insette tydens opleidingsessies vir staatsaanklaers en speurders op nasionale en provinsiale vlak.


Die tweede fase van dié opleidingsprogram het van 14 tot 18 September in Bloemfontein plaasgevind, nadat die eerste fase reeds in Julie aangebied is. Die program word aangebied deur verteenwoordigers en advokate van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), senior lede van die Nasionale Veediefstaleenheid, asook Isabel Kruger namens Vrystaat Landbou.


Hierdie insette fokus onder meer op die aard, omvang en impak van veediefstal, asook die toepaslike wetgewing en die belangrikheid daarvan om die volle omvang van die misdryf tydens vervolging en vonnisoplegging aan die hof voor te hou.


VL se dokumentasie en getuienis word toenemend in hofverrigtinge aangewend om die impak van veediefstal te belig en die hof van relevante inligting te voorsien wat met vonnisoplegging verband hou, het Buys gesê.


Volgens Isabel Kruger, illustreer hierdie saak juis die belangrikheid daarvan dat veediefstal nie as ’n geïsoleerde of geringe eiendomsmisdaad hanteer word nie. “Die verlies van vee het ’n direkte finansiële impak op produsente en kan ook deel vorm van groter, georganiseerde kriminele aktiwiteite.”
Fokus op georganiseerde veediefstal


Vrystaat Landbou het ’n ernstige beroep op die SAPD en die NVG gedoen om die moontlike georganiseerde aard van veediefstal, insluitend die betrokkenheid van sindikate en georganiseerde groeperinge, deeglik te ondersoek.


Die organisasie vra dat ondersoeke en vervolgings, waar toepaslik, die volle omvang van hierdie netwerke aanspreek en dat die hof, op grond van die beskikbare getuienis en toepaslike wetgewing, van alle strafverswarende omstandighede bewus gemaak word.


“Vrystaat Landbou sal voortgaan om saam met die SAPD, NVG en ander rolspelers te werk om die kapasiteit en kennis rondom veediefstal te versterk. Ons doel is om te verseker dat sake behoorlik ondersoek en vervolg word, en dat die ernstige impak van veediefstal op landbougemeenskappe duidelik in die strafregstelsel weerspieël word.” het die organisasie gesê.



At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button