Kleurvolle gesig met jong kunstenaars aan die werk
'n Kleurvolle gesig wag Maandag vir kliënte by die ingang na Parys Mega Mica se tuinsentrum.
Presies 30 jaar nadat jong kunstenaars van Parys die ou Mica-gebou kleur gegee het met hul vrolike kunswerke, is die verfkwaste vandag weer uitgehaal om met kleurvolle kuns Parys se 150ste verjaardag te vier by Parys Mega Mica se tuinsentrum.
By die ingang van die tuinsentrum het die jong kunstenaars van Petit Artiste met hul kleurpallette hul kreatiwiteit vrye teuels gegee.
Antoilene du Toit wie se 56 kunsstudente saam met ander jong kunstenaars van die dorp die projek aangepak het, vertel dat sy destyds deel was van die die jong kunstenaars van José Kotze wat hul stempel op die ou Mica-gebou afgedruk het. Nou is dit haar studente se beurt, om hul kleur en vreugde te deel.






















