Kom help om die Koepel se voëllewe te karteer
Die Vredefort Koepel het 'n besondere voëlskat en hierdie is die ideale geleentheid om te kom kyk en dit eerstehands te beleef.
Birdlife Wesvaal gaan hierdie naweek, Saterdag, 10 Oktober, begin met ’n voëlatlasprojek in die Vredefort Koepel. Die projek vorm deel van die Koepel Bewarea (Dome Conservancy) se biodiversiteitsbestuursplan, en het ten doel om waardevolle voël- en biodiversiteitsdata in te samel wat uiteindelik vir beplanning en bewaring gebruik kan word.
Hoe werk die Voëlatlasprojek?
• Die area dek 25 pentads.
• Pentads sal vooraf aan deelnemers toegeken word.
• Deelnemers sal die aangewese pentad besoek en voëlwaarnemings daar aanteken.
• BirdLasser of Bïndo moet gebruik word, en die waarnemings moet daarna op SABAP2 ingedien word.
• Daar sal binne elke groep iemand wees wat verantwoordelik sal wees om seker te maak dat die data korrek aangeteken en ingedien word.
• Die SABAP2-data sal later verwerk en aan die Vredefort Koepel Bewarea verskaf word.
Wil jy saamry en net voëls kyk?
Voëlliefhebbers en voëlkykers wat net wil saamry is ook baie welkom. Die organiseerders sal probeer om jou by iemand te plaas wat die atlaswerk en toepassing ken, sodat jy lekker kan saamry en voëls kyk.
WhatsApp-groep
Daar sal ’n aparte WhatsApp-groep geskep word vir almal wat belangstel om deel te wees van die projek. Jy kan enige tyd by die projek aansluit — jy hoef nie noodwendig vanaf 10 Oktober betrokke te wees nie.
As jy belangstel om deel te wees van hierdie lekker bewarings- en voëlkykprojek in die Vredefort Koepel, stuur jou naam en van op die laatste Dinsdagoggend 6 Oktober teen 09:00 vir Alet by 064 9000 104.
Kom ons karteer saam die Koepel se voëllewe.
Grondeienaars wat bereid is om die Birdlife Wesvaal voëlkykers Saterdag 10 Oktober van 07:00 tot 12:00 toegang tot hul grond te gee, kan ‘n whatsapp aan Nicolette stuur na 0832656245.



