Local newsNews

4-Dae oue babaseuntjie ongedeerd gevind

Die baba is in die sorg van maatskaplike werkers geplaas.

‘n Vier dae oue babaseuntjie van die Vrystaat is ongedeerd op die drumpel van ‘n huis in Zastron gekry. Volgens Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid is ‘n handgeskrewe briefie by die kind gekry, wat na bewering deur die kind se ma geskryf is, en waarin sy aandui dat sy nie bewus was van die swangerskap nie, en nie in staat is om die nodige sorg aan die baba te bied nie.

Noodmediese Dienste het vinnig gereageer en die baba na die Embekweni-distrikshospitaal geneem vir ‘n volledige ondersoek waar gevind is dat hy gesond en sy toestand stabiel is, het Mvambi gesê.

Die baba is daarna in die sorg van maatskaplike werkers geplaas terwyl die toepaslike wetlike en ander prosesse voortgaan.

Die departement het die huishouding wat alarm gemaak het, NMD-personeel en personeel by Embekweni-hospitaal geloof vir hul vinnige, professionele en deernisvolle optrede.

Die Vrystaatse LUR vir Gesondheid, mnr. Monyatso Mahlatsi, sê hy is verlig dat die baba gesond en ongedeerd is. Mahlatsi sê dit blyk ’n geval te wees van ’n oorweldigde moeder in ’n krisis. “Ons moet sulke situasies met deernis eerder as veroordeling hanteer. Geen ouer behoort so alleen te voel dat hulle tot onveilige keuses gedryf word nie. Veilige, wettige opsies bestaan om beide die moeder en kind te beskerm, insluitend vertroulike ondersteuning by ons klinieke en hospitale, hulp van maatskaplike werkers, tydelike veilige sorg en formele aannemingsprosesse,” het LUR Mahlatsi gesê.

LUR Mahlatsi het ook ’n beroep gedoen op sterker openbare voorligting oor seksuele en reproduktiewe gesondheid.

“Ons moet opvoeding en toegang tot dienste versterk sodat mense onbeplande swangerskappe kan voorkom, vroeë tekens kan herken en betyds voorgeboorte- en psigososiale sorg kan ontvang. Ons gesondheidsfasiliteite en vennote staan gereed om te help – voor, tydens en ná swangerskap.”

Wetlike en veiligheidskennisgewing

Die departement het ook weer gemaan dat om ’n kind sonder toesig agter te laat, gevaarlik en teen die wet is. Indien jy nie na ’n pasgebore baba kan omsien nie, moet jy onmiddellik hulp by ’n kliniek, hospitaal, polisiestasie, geregistreerde maatskaplike werker of kinderbeskermingsorganisasie kry.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button