Motorfietsryers oor die land trek saam teen plaasaanvalle
Hierdie gaan nie oor politieke partye of persoonlike belange nie, maar om saam met boere te staan en die wêreld bewus te maak van die veiligheidskrisis waarmee landelike gemeenskappe te kampe het, het TLU SA gesê.
‘n Nasionale motorfietsrit teen plaasaanvalle word op 6 Desember op verskeie plekke oor die land gehou. Die inisiatief bring motorfietsryers, gesinne en ander Suid-Afrikaners byeen om bewusmaking oor plaasaanvalle te bevorder en solidariteit met boere te toon.
Die motorfietsrit wat ook deur TLU SA gesteun word, is ’n inisiatief van David en Lientjie Swanepoel, met Biker Hart Radio as mediavennoot.
Belangstelling in die landwye aksie groei, met koördineerders wat reeds in verskeie provinsies besig is om plaaslike byeenkomste en konvooie te reël. Mense met motors word ook aangemoedig om deel te neem, en sal agter die prosessie van motorfietse volg.
“Ons het groot waardering vir elke persoon en organisasie wat die harde werklikheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika sigbaar maak. Dit is ’n werklikheid wat nie geïgnoreer of as bloot nog ’n misdaadsyfer afgemaak mag word nie. TLU SA ondersteun hierdie inisiatief omdat dit mense byeenbring en ’n belangrike boodskap van solidariteit met ons boere uitstuur,” sê Mauritz Lombard, TLU SA se bestuurder vir beleidskakeling.
Die TLU SA-span sal ook in Pretoria aan die rit deelneem, onder leiding van Lombard.
Die organisasie het Suid-Afrikaners aangemoedig om by die byeenkoms in hul onderskeie gebiede in te skakel. Alle motorfietsryers, motorfietsklubs, gesinne en ander belangstellendes is welkom.
“Hierdie gaan nie oor politieke partye of persoonlike belange nie. Dit gaan daaroor om saam met boere te staan en die wêreld bewus te maak van die veiligheidskrisis waarmee landelike gemeenskappe te kampe het. Elke deelnemer help om hierdie boodskap verder uit te dra,” sê Lombard.
Die organiseerders beklemtoon dat die rit ’n vreedsame en ordelike geleentheid sal wees. Deelnemers moet die reëls en instruksies van plaaslike koördineerders nakom. Persone wat meer inligting oor die rit of plaaslike byeenkomste verlang, kan vir Mauritz Lombard by TLU SA kontak.



