Polisie soek na mans wat slagoffer met mes in die kop steek
Die verdagtes het ook 'n panga by hulle gehad.
Die polisie in Parys soek na vier verdagtes wat na bewering ‘n 23-jarige man Maandag 9 November omstreeks 17:40 aangeval en met ‘n mes in die kop gesteek het, toe hy van ’n OTM onderweg was na ’n vulstasie, Die mans wat ook ‘n panga by hulle gehad het, het die slagoffer se geld en selfoon gesteel.
Volgens polisiewoordvoerder konstabel Kelello Patsa, ken die slagoffer nie die verdagtes se woonadresse nie, maar kon hy twee van hulle aan hul gesigte herken en hulle ook aan hul voorname, Tsheisi en Lerato, identifiseer. Die ander twee verdagtes is onbekend aan hom.
’n Saak van poging tot moord en roof met ’n ander wapen as ’n vuurwapen e is by die Parys-polisiestasie geopen. Geen arrestasies is nog gemaak nie.
Enigiemand wat inligting het wat die polisie kan help om die verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem, word gevra om die ondersoekbeampte, speursersant Seabata Mantoor, by 082 554 3041 te skakel.
Inligting kan ook op die MySAPS-toepassing deurgegee word, of anoniem by die SAPD Stop Misdaad-nommer 08600 10111.



