Local newsNews

Water soos riviere in Parys se strate ná wolkbreuk

Meer as 140mm reën is vanmiddag in Parys gemeet.

‘n Wolkbreuk het rondom 16:00 vanmiddag in ‘n oogwink strate in die Vrystaatse dorp Parys in riviere omskep met meer as 140,7mm reën wat sedert vanmiddag tot en met 21:34 in die dorp gemeet is. Met die skryf van dié berig het dit steeds gereën.

Swaar weer het tydens die storm die lug in ‘n flitsende skouspel omskep, en is wydverspreide kragprobleme in die dorp gerapporteer. Teen 21:30 was daar steeds dele sonder krag met weerstoestande wat herstelwerk bemoeilik.

Water soos riviere in Parys se strate. Foto: Facebook
Water soos riviere in Parys se strate. Foto: Facebook

Hoewel reën aanvanklik sag net na 14:00 oor die dorp uitgesak het, het die donderstorm en swaar reën kort daarna tussen 16:00 en 17:30 chaos veroorsaak in onder meer Eerstelaan, en by die kruising van Van Coller- en Breëstraat waar paaie onbegaanbaar was weens spruite wat oorgeloop het, en bome wat omgeval het.

Die Endstraat-ingang na die Parys Vleiland Park onder water. Foto: Liezl Scheepers
Die Endstraat-ingang na die Parys Vleiland Park onder water. Foto’s: Liezl Scheepers

Die Endstraat-ingang na die Parys Vleiland Park was in ‘n oogwink een watermassa, terwyl water deur die gebou van African Agriculture Equipment op die h/v Breë- en Van Collerstraat gestroom het. Sakke hawer wat op die perseel was, is deur die krag van die water meegesleur tot by die Breë en Van Coller-kruising.

Die kruising van Breë- en Van Collerstraat was onbegaanbaar na swaar reën en spruite wat het oorgeloop het. Op die foto is die gebou van African Agriculture Equipment waar water deurgestroom het. Foto: Liezl Scheepers
Water het deur die gebou van African Agriculture Equipment op die h/v Breë- en Van Collerstraat gestroom, Foto: Verskaf

Volgens Selwin Perry, eienaar van die gebou waarin African Agriculture Equipment sedert Februarie vanjaar is, is dit die eerste keer sedert die gebou vier jaar gelede gebou is, dat water van dié omvang hier by die kruising gesien is.

Talle erwe was onder water. In Mollstraat het ‘n sterk stroom water soos ‘n rivier deur ‘n erf geloop, terwyl Johan en Sonja Pretorius van Kortstraat ook gevrees het dat hul Jack Russeltjie kon verdrink met die massas water wat in hul erf opgedam het.

In Venusstraat het Iggie en Michelle Verwey van EMS Chaplaincy Parys gehelp om mense en hul honde na veiligheid te neem nadat water deur hul huis gestroom het.

Die watermassa wat deur 'n erf in Mollstraat gestroom het. Foto: Verskaf
Die watermassa wat deur ‘n erf in Mollstraat gestroom het. Foto: Verskaf
Johan en Sonja Pretorius voor hul erf in Kortstraat wat onder water was.
Weerlig in die lug bo Parys wat Sondag gesorg het vir 'n flitsende skouspel. Foto: Liezl Scheepers.
Weerlig in die lug bo Parys wat Sondagmiddag gesorg het vir ‘n flitsende skouspel. Foto: Liezl Scheepers.
'n Asemrowende gesig van massas water en weerlig by die Endstraat-ingang na die Parys Vleiland Park-gebied. Foto: Liezl Scheepers
‘n Asemrowende gesig van massas water en weerlig by die Endstraat-ingang na die Parys Vleiland Park-gebied. Foto: Liezl Scheepers
  • Skouspelagtige weerlig het ook die hemelruim bo Fochville Sondagaand aan die brand gehad. Dié besondere foto is deur Quintin Muller Photography op Facebook gedeel.

Wat is ‘n wolkbreuk?

Wanneer meer as 100mm reën in minder as ‘n uur sou val, word dit volgens meteorologiese standaarde in Suid-Afrika en die Wêreldmeteorologiese standaarde as ‘n wolkbreuk geklassifiseer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button