Grootskaalse soektog na verdagtes ná OTM-ontploffing
Vyf van die verdagtes is steeds soek.
‘n Verdagte is noodlottig gewond en een beseer na ‘n skietgeweg tussen die verdagtes en die polisie nadat hulle gevlug het ná ‘n OTM-ontploffing vanoggend in die Vrystaatse dorp, Koppies.
Volgens polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Thabo Covane het sewe verdagtes omstreeks 01:30 die OTM in Kerkstraat met plofstof geskiet. Die verdagtes het aanvanklik te voet van die toneel gevlug en daarna in twee voertuie, ’n wit Audi en ’n Volkswagen Polo met vals nommerplate, geklim.
Covane sê die voertuie het in die rigting van Zamdela op die R82 beweeg. ‘n Uitkyk is vir die voertuie gegee waarna lede van die Fezile Dabi-distrik se Operasionele Bevelsentrum (DOCC) ontplooi is om die roete in die rigting van Koppies te patrolleer.
Ongeveer 10 km buite Zamdela het die polisiebeamptes die silwer Volkswagen Polo opgemerk wat uit die teenoorgestelde rigting aangery gekom het. Die polisielede het omgedraai, waarna die Polo langs die pad stilgehou en twee mans uit die voertuig geklim het.
Toe hulle die polisievoertuig opmerk, het een van die verdagtes op die polisiebeamptes begin skiet. In die oor-en-weer skietery wat gevolg het is een verdagte dood, en een beseer, het Covane bevestig.
Covane sê die verdagte is dood in ’n veld aangetref, met ’n pistool langs hom, terwyl die tweede verdagte langs die pad gevind is met ’n sak wat bevlekte geld en plofstof bevat het, langs hom.
Daar is beslag gelê op ‘n vuurwapen, plofstof en ’n onbekende bedrag geld.
Hoewel die polisievoertuig deur die koeëls beskadig is en ook skade aan een van die voertuigbande het, is nie een van die polisiebeamptes beseer nie.
Twee strafdossiere is deur die polisie geopen. Die Koppies-polisie het ’n saak geopen na aanleiding van die ontploffing ingevolge artikel 27(1) van die Wet op Plofstof 26 van 1956, asook diefstal by die OTM.
Die tweede saak is by Zamdela geopen na die skietery tussen die verdagtes en die polisie. Die aanklagte sluit in die besit van plofstof, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom na aanleiding van die geld wat gevind is, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook poging tot moord.
Verskeie rolspelers, waaronder die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) en die Plofstofeenheid van Vereeniging, was op die toneel vir die ondersoek.
Die soektog na die ander verdagtes duur voort.
Enigiemand wat inligting het wat die polisie kan help met die ondersoek of die opspoor van die verdagtes na wie daar nog gesoek word, word gevra om luitenant-kolonel James Mahlatsi van die provinsiale eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdaad by 073 453 8990 te kontak. Inligting kan ook by jou naaste polisiestasie aangemeld word, anoniem op die MySAPS-toepassing, of op die SAPD se tolvrye Stop Misdaad nommer 08600 10111.



