Dringende optrede gevra om plaaslike koringproduksie te beskerm
Finansiële druk en die gaping tussen koringgehalte en produsentepryse vereis ’n gekoördineerde reaksie van finansierders, die koringwaardeketting en beleidmakers.
Suid-Afrika se koringprodusente is onder toenemende finansiële druk, en baie het min ruimte oor om nóg ’n moeilike seisoen te absorbeer.
Suid-Afrika se verwagte koringoes vir 2026 is 1,81 miljoen ton, die laagste in agt jaar. In die Wes-Kaap is die verwagte provinsiale gemiddelde opbrengs van ongeveer 2,65 t/ha veel laer as die geraamde gelykbreekopbrengste van 3,2 t/ha in die Swartland en 3,56 t/ha in die Overberg en Suid-Kaap.
Hierdie gelykbreekramings sluit nie die bykomende koste in van produsente wat ná swaar reën lande ’n tweede keer moes aanplant en bemes nie.
Vir produsente wat reeds op beperkte reserwes staatmaak, laat dit min ruimte om verdere verliese te dra. Graan SA het in die lig hiervan gevra vir gesamentlike optrede om produktiewe boerderye in bedryf te hou, billike vergoeding vir plaaslike koring te verseker en die strukturele uitdagings wat die bedryf se lewensvatbaarheid ondermyn, aan te spreek.
“Die antwoord lê nie by een rolspeler alleen nie. Produsente, finansierders, landboubesighede, insetverskaffers en die res van die waardeketting sal saam moet werk om produktiewe boerderye deur hierdie periode te help dra. Wanneer een skakel onder druk is, raak dit uiteindelik die volhoubaarheid van die hele ketting,” sê Richard Krige, voorsitter van Graan SA.
Hoër gemete gehalte, laer pryse
Navorsing deur BFAP, befonds deur Graan SA, laat die vraag hoe die mark plaaslik geproduseerde koring vergoed.
In die 2024/25-seisoen was die gemete bakwaarde van Suid-Afrikaanse koring 38% hoër en die maalwaarde 18% hoër as dié van die ingevoerde koring waarmee dit in die studie vergelyk is. Tog was die plaaslike gemiddelde prys, nadat verskillende koringgrade in berekening gebring is, ongeveer 11% – oftewel sowat R700 per ton – laer as die gemiddelde invoerprys.
Hierdie bevindinge vereis ernstige aandag van die koringwaardeketting. Produsente wat koring met ’n hoër gemete bak- en maalwaarde lewer, het ’n mark nodig wat daardie waarde erken en billik vergoed, sê Graan SA.
Die organisasie bevraagteken die aanname dat liggingsdifferensiaal wat op ’n SAFEX-termynkontrak van toepassing is, outomaties in die kontantmark afgetrek behoort te word. “Dié differensiaal weerspieël nie noodwendig die fisiese marktoestande nie. Beskikbare premies en die waarde van koring by die produsent se ligging moet in prysonderhandelinge in berekening gebring word, het Graan SA SA benadruk.
Die organisasie vra vir:
- Praktiese finansiële ondersteuning
- Billike vergoeding vir plaaslike koring
- Vordering met strukturele hervorming
Graan SA het op 10 September tydens NAMPO Kaap gesprekke met landboufinansierders begin en hierdie gesprekke sedertdien voortgesit. ‘n Beroep is op produsente gedoen om vroegtydig met hul finansierders te praat, terwyl daar nog meer ruimte is om werkbare opsies te ondersoek.


