DA bekommerd oor finansiële posisie van Vrystaatse Departement van Onderwys
'n Beroep op die departement gedoen om die Ouditeur-generaal se aanbevelings sonder versuim te implementeer,
Die Demokratiese Alliansie (DA) sê hy is bekommerd oor die verslegtende finansiële posisie van die Vrystaatse Departement van Onderwys, veral die departement se onvermoë om openbare fondse doeltreffend te bestuur en sy finansiële verpligtinge na te kom.
Volgens die ouditverslag van die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OGSA) moes die departement van ‘n oortrokke fasiliteit gebruik maak om sy bedrywighede aan die gang te hou. Dit het bygedra tot ‘n verswakking in sy oudituitkomste. Dit wek ernstige kommer oor die departement se finansiële beplanning, bestedingbestuur en vermoë om gesonde finansiële beheermaatreëls te handhaaf.
Die departement moet rekenskap gee van sy R473,2 miljoen se ongemagtigde uitgawes, R618,4 miljoen se onreëlmatige uitgawes en R106,55 miljoen se vrugtelose en verkwistende uitgawes. Hierdie bedrae dui op ernstige tekortkominge in finansiële bestuur en toesig, meen die DA.
Die vrugtelose en verkwiste uitgawes sluit R19,93m aan rente en boetes in, terwyl ‘n verdere R86,62 miljoen verband hou met vandalisme, diefstal van konstruksiemateriaal, gekanselleerde infrastruktuurprojekte, herstelwerk en die versuim om koste van kontrakteurs wie se kontrakte beëindig is, te verhaal.
Die DA het ‘n beroep op die departement gedoen om die Ouditeur-generaal se aanbevelings sonder versuim te implementeer, sy finansiële beheermaatreëls te versterk en te verseker dat daar aanspreeklikheid is waar finansiële wangedrag plaasgevind het. Openbare fondse moet beskerm word en aangewend word om leeromstandighede en onderwysuitkomste te verbeter.
Leerders by skole in die Vrystaat mag nie die prys betaal vir die regering se versuim om openbare finansies verantwoordelik te bestuur nie. Daar moet rekenskap gegee word van elke rand wat aan die departement toegeken word, en dit moet lei tot tasbare verbeterings in die onderwysstelsel, het die party gesê.



