Oor wegpak, weggooi en wegtrek
Vandag is dit ‘n survival of the fittest en in dié stryd verloor ons heel dikwels onsself, ons mense en die spark wat ons óns maak.

Die lewe is nie aldag vir sissies nie. Soms verg dit baie bid en op jou tande byt om deur die dag te kom, en ja, soms moet jy maar ‘n pillitjie, ‘n sopie of nóg ‘n tjoklit nader trek. Ek judge nie. Elke diertjie het sy plesiertjie.
Dit is nodig vir my om hierdie brief aan jou te skryf, want iewers moet die gevoeltenis uiting kry. En jy weet mos hoe dit is as die werklikheid ‘n snykant het en aanhou om die vervlakste rofie van onthou af te krap. Ek weet jy sal verstaan, ons kom tog mos al ‘n lang pad saam.
Ek, die Juffrou en Pilletjie is besig met ‘n groot gedoente: ons pak ons ouerhuis op, want daar trek binnekort huurders in. Dit is ‘n vreemde gedagte, eintlik vreesaanjaend. Aan die een kant is ons só bly dat daar ‘n uitkoms met dié(harts)huis is, maar aan die ander kant is daar meer as 22 jaar se lééf wat uitgesorteer moet word. En dit is hierdie wegpak, weggooi en uiteindelike wegtrek wat my hart in my keel laat klop – of soos een van die Juffrou se kindertjies dit stel: ek het ‘n kopseer op my maag!
Jy sien, dinge staan só: Ma-Willemse was ‘n praktiese mens en as sulks het sy nie ‘n groot sin vir goetertjies gehad nie. Pa-Willemse aan die anderkant was ‘n meester klotterklaas en ek het beslis my begeesterde-goetertjies-voorliefde van hom geërf.
Die huisraad is al geredelik uitgesorteer, behalwe vir Ouma Dorp se sideboard, sitkamerbank en enkelbed-kootjies (met die draadraamwerk en klapperhaarmatrasse). Dan is daar nog Ouma Jannie se jonkmanskaste en Ma en Pa se bal-en-klou-slaapkamerstel. Die groot appliances bly vir eers want vir dié het niemand plek nie, en gelukkig sal die huurders dit kan gebruik.
Wat ons ook met die magdom geraamde foto’s gaan doen, weet ek nie. Vandag se blyplekke is mos maar net’n posseël groot. Die mense wat laggend in dié foto’s verskyn voel ook in elk geval amper onbekend.
Hulle herinner aan ‘n anderste tyd, ‘n tyd voor peste en pandemies. ‘n Tyd voor testamente en boedels. Méér nog, ‘n tyd toe die ritme van menswees stadiger was… Hulle sê mos ‘n foto is ‘n oomblik in tyd wat vir altyd vasgevang is. Wat ek nie sou gee om terug in tyd te gaan om net weer één keer ‘n skyf waatlemoen op Jukskeilaan se stoep te eet nie? Oe, of te smul aan die gul pruimoes van Mageretstraat nie? Die braaibroodjies van Umfolosistraat sal ook nou ‘n groot verlang kan stil.
Maar terug by die groot taak van wegpak, weggooi en wegtrek.
Die groot uitdaging, dink ek, is die motorhuis. Alhoewel ek opsien teen dié taak, glimlag ek tog in my binneste. Pa was ‘n tinker, en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Noem dit en hy het dit probeer. Die geneuk is egter dat hy nie verby ‘n leë koffieblik kon loop nie… Die rakke in die motorhuis kreun onder diesulke blikke propvol goetertjies. Daar is spykers, moere, afgesnyde muurproppe (waarom Pa?), washers, die binnegoed van ou voedselverwerkers, radios en wie weet wat nog. En moenie vergeet van die blikke met die boilermaker’s chalk, gloeilampies vir die wispelturige Uno (wat al vergange van eienaars verwissel het) en jou waarlik ‘n blik met propperse odds and ends. Laasgenoemde is ‘n uitgebreide versamelilng wat alles vanaf onpaar allen keys, selfoonkabels (Nokia 3310), vraagteken-hakkies, HB-potlode, uitveërs, yskasmagnete, vervloeë dae se bruinmunte en vuurhoutjies insluit.
Méér interessant is die bokse in die stoorkamer. Hierdie bokse vertel as’t ware die lewensverhaal van ‘n seun, ‘n eggenoot en ‘n pa oor die verloop van 69 jaar. Hierdie bokse voel ampers vir my heilig. En ek weet sommer dit is hier waar my hart en my onthou ‘n kruk gaan nodig hê. Die foto’s – in swart en wit, van ontslape familielede vertel die storie van ‘n gesin wat vroeg reeds verlies geken het. In ‘n ander boks se album glimlag ‘n jong Basjan Willemse vir sy vrou, Annette, en Siela (Pilletjie) – hul eersteling, spog met ‘n kappie en ‘n paar patent leather skoentjies. Pilletjie het altyd ‘n hoed of ‘n kappie of iets soortgelyk aangehad… seker dié dat sy vandag nog snoep is oor ‘n hoed.
Daar is foto’s van my en die Juffrou waar ons hanslammers met ‘n bottel voer, en uit die verskrikte uitdrukkings op veral die Juffrou se gesig, kan jy terstond aflei dat ons uit-en-uit dorpsjapies is. Kreature van gemak.
Dan is daar ook ‘n magdom sertifikate, opleidingshandleidiings en wraggies ‘n Owner’s manual vir ‘n Datsun 510. Pa was al die jare ‘n Datsun-man… Ek wonder wat sou hy gesê het oor die Juffrou se Ford?
Ma se hartsgoed is weggebêre in haar kas. Moedersdagkaartjies, handgeskrewe briewe wat sy as jong meisie vir Pa geskryf het en notaboekies vol genadegetuienis. Soos die lewe sy gang gegaan het, is die vele medieseverslae, x-trale en scans tekenend van haar stille stryd. Ma het nooit gekla nie. As ek nou aan haar dink besef ek dat sy in haar kwesbaarheid die sterkste vrou was wat ek ooit geken het. Ma het nie geskroom om weg te doen met goed wat nie meer ‘n doel gehad het nie… anders as Pa wat vas geglo het dat hy weer lewe in die stofsuig of strykyster sou kon blaas. Ek wonder wat sou sy gesê het van ons spulletjie wat so oor elke koppie, kussingsloop en koekiedrukker talm…
In die kombuis herinner die tientalle bakkies vol bakbestanddele soos anys, gemmer en vanielje jou aan die heerlikste gebak wat Ma so sonder moeite kon saamslaan. Dit is veral haar pardoems-vrugtekoek (die een met die swaar brandy-hand) wat my altyd sal bybly. Sy het diá vrugtekoeke met groot sorg beplan en het selfs die panne in sewe lae koerantpapier bedek om te sorg dat die hitte eweredig versprei. Die reuk van die veulkleurige chellies en droë vrugte wat saam in botter en ‘n skeutjie KWV gekook het, was onbeskryflik (en ook die rede vir vele ooreet-ongurigheid). Vandag bak net die Juffrou. Ek en Pilletjies pleeg ready mix en dit tel wraggies waar nie as tuisgebak nie.
Die hele proses van oppak en wegpek voel vir my vreemd. Aan die een kant ag ek myself só gelukkig dat ek deel kon wees van hierdie soort bestaan, in ‘n tyd toe die lewe nie net met ‘n ondenkbare spoed met jou gebeur het nie. Néé. Ons het gespeel, gelag, geleer, gebid en méér ons was almal saam één.
Vandag is dit ‘n survival of the fittest en in dié stryd verloor ons heel dikwels onsself, ons mense en die spark wat ons óns maak. Aan die ander kant wil ek met gebalde vuiste hoorbaar protesteer. Ek wil hê dat die wêreld en sy maat moet weet dat die new normal nie alles is wat mense dit uitmaak om te wees nie. Altans, nie altyd nie.
Maar, Liewe Persoon, net voor jy dink dat ek my nou finaal my kluts kwyt is, wees gerus. Ek sal oor dié hartswoeling kom. Ons sal almal. En ons sal opstaan, opdaag en lééf met die wete dat ons deel was -en steeds is, van iets veel groter as onsself. Die hartseer, die verlang, en die woede (by tye) sal plek maak vir die warme gloed van onthou, diie uit-jou-maag-uit lag vir die kwinkslae en die heimwee wat net ‘n ou koffieblik vol goetertjies jou kan bring…
Tot dan, trek ons die voordeur toe en ons sluit die hek vir oulaas…