
Rumatiek, beter bekend as Rumatoiëde arthritis of Osteoarthritis in die mediese wêreld, kan pynlik ongemaklik wees en veroorsaak dat jy sukkel om te beweeg as gevolg van té veel pyn en swelling in jou lyf se gewrigte.
Die twee tipes arthritis vererger gewoonlik in koue weersomstandighede en met die winter wat op die voorstoep is, is dit ’n goeie idee om te weet wat elke toestand is en hoe jy jouself kan help om dit beter te maak. Daar is nie ’n wonderkuur vir die toestande nie, maar behandeling kan help om die simptome te verlig.
Osteoarthritis (OA) is ontsteking en inflammasie in een of meer van die gewrigte en word meestal veroorsaak deur normale ouderdom verwering van die been of enige vorige kraakbeen/gewrig beserings in jou lyf.
•OA kom meestal voor in die rug, heupe, knieë en hande, maar kan in enige gewrig voorkom. Die lyf vorm ekstra been om die gewrig om te probeer keer dat die gewrig beweeg, en dus kan daar dikwels gevind word dat die gewrig nie meer kan beweeg nie of baie erg kraak as dit beweeg.
•OA kom meer in vrouens voor as in mans en ontwikkel stadig oor ‘n paar jaar. Dit kan op ‘n x-straal gesien word en het somtyds nie enige simptome nie.
•Simptome sluit in: Gevoelige gewrigte met effense/geen swelling, oggend styfheid wat minder as ‘n uur duur en dan aan die einde van die dag of na aktiwiteit weer terugkeer.
•Behandeling: Oefening om die spiere sterker te kry om te help om die gewrigte te beskerm en ook om ‘n gesonde gewig te handhaaf, pyn en anti-inflammatoriese medikasie, fisioterapie en arbeidsterapie om te help met hulpmiddels en te help om soveel as moontlik omvang van die gewrig te behou. Warm en koue terapie.
Rumatoiëde arthritis (RA) is minder algemeen as OA, maar veroorsaak baie meer styfheid, swelling en pyn in die gewrigte. RA word veroorsaak deur jou lyf se imuunstelsel wat die gewrigte aanval en inflammasie veroorsaak wat dan die gewrigte beskadig. RA ontwikkel vinnig binne ’n paar weke tot ’n paar maande.
•Gewrigte wat meestal deur RA beïnvloed word is die polse, hande, vingers, enkels, voete en tone. Ernstige deformiteite kan vorm as die toestand nie behandel word nie. Vroeë behandeling kan pyn en swelling verminder en dan ook ernstige skade aan die gewrigte voorkom.
•Bloedtoetse is nodig by ’n dokter/spesialis om te kan bepaal of RA teenwoordig is.
•Simptome sluit in: styfheid vir meer as ’n uur in die oggende in bogenoemde gewrigte, pyn en swelling, deformiteite in die gewrigte, verhoogde temperatuur in die gewrigte.
•Behandeling: Lae impak oefening soos stap of ligte aerobiese oefening om inflammasie te verminder en spiere te versterk, Versterkte spiere verlig die druk op die gewrigte. Fisioterapie en arbeidsterapie vir behandeling van gewrigte en pyn en hulpmiddels/stutte te gee om erge deformiteite te voorkom. Spesiale anti-inflammatoriese en pyn medikasie voorgeskryf deur die dokter is ‘n vereiste. Warm en koue terapie.
Vir enige navrae skakel Annelize Bruwer, gemeenskapsdiens fisioterapeut by 056 816 2154.



