Kragloos en dit oor lamppaal-botsing
Kragloos en dit oor lamppaal-botsing

‘n Motoris wat Vrydagaand 20:40 teen ‘n lamppaal op die h/v Paulsen en President Steynweg gebots het, en toe weggery het, is die rede waarom Parysenaars in dié omgewing steeds sonder krag sit.
Herhaalde oproepe is na die Ngwathe munisipaliteit se noodnommer gemaak, en kon daar later nie meer na die nommer deurgekom word nie. Gazette het self ook herhaaldelik die noodnommer probeer skakel maar sonder sukses.
Teen 12:15 vanmiddag was daar vir die eerste keer ‘n senior elektrisiën van Ngwathe op die toneel
Parys het boonop nie tans ‘n hysbak platform om die kragkabels wat op die sypaadjie en in pad by die sirkel naby die lamppaal gelê het, te herstel nie. Van die inwoners in die omgewing moes self inspring om die kabels te probeer wegsleep voor die oprit van die huis op die h/v Paulsen en President Steynweg waar daar nie in of uitbeweeg kon word nie.
Teen 12:15 het die tegniese direkteur vir Ngwathe, mnr. Ntoampe Thobela aan mnr. Saal de Jager gesê dat ‘n hysbak platform van Sasolburg laat kom is en net na 13:00 hier sou wees. Dan eers kan begin word met die herstelwerk.

Die hysbakplatform van die munispaliteit wat op Vredefort was is lankal nie meer op die pad nie, en die hysbakplatforms wat Parys gehad het, is ook al ‘n geruime tyd onklaar, is verneem.
Sedertdien is ‘n hysbakplatform glo gehuur wat ook Donderdagaand terug is.
Sonder ‘n hysbakplatform maak dit die werk van die elektrisiëns van die munisipaliteit bykans onmoontlik.
Iintussen moet inwoners die ongerief verduur van ure sonder krag sit as gevolg van die “lamppaal ongelukkie” en onvermoë om krisisbestuur te kan doen.
Colin Viljoen van die Emunah Foundation is een van die ongelukkige inwoners in die omgewing wat vertel het hoedat rook uit van sy elektriese toestelle getrek het toe die kragtoevoer skielik gisteraand onderbreek is na die ongeluk. “Wie betaal vir die skade,” vra hy, en sê dat selfs sy sekuriteitskameras nie kon werk as gevolg van die urelange onderbreking.



