Amy’Leigh-saak uitgestel; Media bring dringende aansoek
Tharina Human (26), Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50), het vanoggend (Maandag 9 September) voor die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn op ‘n klag van ontvoering van die 6-jarige Amy’Leigh de Jager. Amy’Leigh is vandag presies ‘n week gelede op 2 September voor haar skool ontvoer toe haar ma, Angeline, haar en haar boetie die oggend …

Tharina Human (26), Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50), het vanoggend (Maandag 9 September) voor die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn op ‘n klag van ontvoering van die 6-jarige Amy’Leigh de Jager. Amy’Leigh is vandag presies ‘n week gelede op 2 September voor haar skool ontvoer toe haar ma, Angeline, haar en haar boetie die oggend by die skool afgelaai het.
Die drie beskuldigdes is nie gevra om te pleit nie. Die saak is uitgestel na 19 September wanneer formele borgaansoeke deur die hof aangehoor sal word. Aldrie bly tot dan in aanhouding
Die uitstel volg na drama vroeër vanoggend toe die landdros wat die saak behartig, die media versoek het om die hof te verlaat, sodat ander sake en uitstelle eers afgehandel kon word. ‘n Dringende aansoek is daarna gebring, waarna die media oor die verrigtinge kon verslag doen.
Human was ‘n Gr RR-onderwyseres by Amy’Leigh se skool, Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark. Sy is intussen geskors en sal na verwagting moontlik tugstappe in die gesig staar hangende die strafsaak teen haar.
Human was ook oënskynlik vroeër bevriend met Amy’Leigh se ma. Verskeie foto’s van hulle saam het op Human se Facebookblad verskyn wat intussen gesluit is.
Amy’Leigh is Dinsdagoggend 3 September in die vroeë oggendure ongedeerd gevind en is die arrestasies kort daarna gemaak.




