‘Ek kan nie so ‘n oorsigrol vervul nie,’ sê raadslid oor bedanking
Raadslid Saal de Jager se laaste dag van diens is 31 Maart.

“Ek het my verantwoordelikheid as raadslid ernstig opgeneem, maar ek kan nie voortgaan om my rol effektief te vervul nie,” sê DA raadslid Saal de Jager oor sy bedanking as proporsionele raadslid op die Ngwathe raad. Sy laaste dag van diens is 31 Maart. Onderhoude vir die posisie is reeds vandeesweek gevoer, en sal ‘n opvolger in sy plek op die raad deur die DA aangewys word.
De Jager sê in sy bedankingsbrief dat hy toegang tot die watersuiweringswerke geweier is wat dit vir hom onmoontlik maak om ‘n oorsigrol as lid van die munisipale infrastruktuurkomitee te kan vervul veral ten opsigte van opgradering en vordering van die werk wat tans by die suiweringswerke gedoen word.
Hy noem ook in die brief wat op 10 Maart aan die munisipale bestuurder en speaker gestuur is, dat ongereelde vergaderings van die munisipale infrastruktuurkomitee, die indruk laat dat die komitee nie daartoe verbind is om munisipale infrastruktuur te oorsien en te verbeter nie.
Die gebrek aan ‘n kliëntediensplatform waar inwoners klagtes oor munisipale dienslewering kan aanmeld, is nog ‘n rede waarom hy bedank, sê De Jager. Hy sê raadslede spandeer ure se oneffektiewe en vrugtelose tyd aan klagtes van inwoners wat deur die munisipaliteit hanteer en aangespreek moet word.
Hy sê hy en ander baklei al jare vir ‘n sentrale inbelsentrum sonder sukses. Gevolglik word raadslede die ‘go to person’ nie net bedags nie, maar selfs saans.
“Ek glo egter steeds dat Parys een van die mooiste dorpe is wat die grootste potensiaal vir groei het, maar dit word gekelder deur die verval van munisipale infrastruktuur.” Hy sê hy sien dit ook in die eiendomsbedryf wat negatief hierdeur geraak word.
De Jager sê hy gaan hom nou toespits om meer tyd aan sy eie sakebelange te spandeer.
Hy het destyds saam met sy ouers as 12-jarige seun van Swartruggens na Parys verhuis waar sy pa die Geen & Velleman apteek gekoop het.
Hy vertel dat sy betrokkenheid by die politiek gekom het nadat hy vir jare voorsitter van die Ngwathe Waterforum was. Hy het egter gevoel dat hy as raadslid meer sou kon doen veral wat besoedeling en waterkwessies betref, en word hy na die dood van rdl. Johann Roos in 2015 gekies as raadslid vir wyk 12. ‘n Rol wat hy vir drie jaar vervul het voordat hy bedank het.
In 2021 is hy weer gekies vir die Ngwathe-raad – dié keer as proporsionele raadslid.
De Jager het na sy weermagopleiding ‘n tyd lank by Anglo American se personeelafdeling gewerk, en in 1987 Saal de Jager Eiendomme in Parys geopen. Daarna sou ook Parys Sekuriteit, Aquawin en ‘n solaronderneming volg. Die naam Saal de Jager Eiedomme is later jare verander na Homenet Parys en word hy as deel van die Homenet-groep toe Harcourts Parys wat tans een van die oudste alleen-eienaar eiendomsagentskappe in die dorp is.
De Jager het in 1977 sy Springbokkleure in snelroei verwerf, en was tot 2019 voorsitter van die Likkewaan-kanoklub. Die klub het een van die sterkste laerskool spanne en die tweede sterkste hoërskool span vir jare by die SA kano-kompetisie gehad. Hy is steeds erelid van die kanoklub.