Pure lekkerte wat Bybels help betaal
As jy twaalf jaffels koop wat 'n heerlike kosblikkie of middaghappie is en boonop baie suksesvol vries, kry jy twee jaffels gratis.
Klokslag elke jaar is dit die stofie-draf agter die jaffelpanne in die NG gemeente Parys-Oos se kerksaal. Vanjaar altesaam 7045 van die boepensbroodjie lekkerte wat gebak, verpak en verkoop is ten bate van die Bybelgenootskap.
Vir die afgelope 22 jaar al help hierdie jaffels wat verkoop word, om dit moontlik te maak om steeds ‘n standaard Bybel bekostigbaar te kan verkoop in die handel.
Vandeesweek was dit die groot jaffel-bak aksie en moet jy baie gou spring as jy vanoggend nog ‘n jaffel teen R18 by die Oos-kerksaal wil koop om die projek te ondersteun, en as jy twaalf jaffels koop teen R220 kry jy boonop twee gratis.

Interessante feite
Die projek is aanvanklik deur ’n Vanderbijlparkse gemeente begin en het Parys-Oos gehelp, maar het dit oor die jare eie aan Parys geword.
Vandag is die Bybel steeds die mees gelese boek ter wêreld. Tog was daar in 2022 steeds 3948 van die 7 359 tale in die wêreld wat nog geen deel van die Bybel op skrif gehad het nie, en net 700 tale met ’n volledige Bybel.




Hoe bak jy 7 045 jaffels?
Om vanjaar se jaffels te kon bak was ‘n allemintige klompie bestanddele nodig.
- 480 kg vleis
- 192 kg groente
- 926 brode
- 80 kg botter
- 35 kg speserye gebruik
‘n Flukse span van ongeveer 70 mense het vandeesweek hard gewerk om die jaffels gebak en verpak te kry en is daar selfs Woensdagaand ingespring om te help bak.







Maak ook seker jy mis nie Saterdagoggend se pretstap by die Oos-gemeente wat ook ten bate van die Bybelgenootskap aangebied word. Bring jou vriende, jou familie, jou troeteldiere en stap saam die 2km of 5km roetes.
Die koste is R20 vir volwassenes, R10 per kind en R50 vir ‘n gesin.
Onthou ook dat daar Saterdag nog jaffels en pannekoek verkoop sal word by die kerkterrein h/v Loop- en Paulsentraat.
Drawwers spring weg om 06:00 en die stappers om 07:00.



