Die Grafdigter: Soms het waarheid ‘n kinkel – bewustelik of onbewustelik
Om stories te vertel, kan helend wees en verligting bring, maak nie saak hoe vals dit dikwels is nie. Dit is waarom Mila herinneringe aan haar kindertyd opteken, sodat sy haar trauma kan verwerk
Die Grafdigter is nie ‘n verhaal wat jy kan opsom in ‘n paar sinne nie. Wat jou van dié roman uit die pen van skrywer Gerda Taljaard sal bybly, is die skoonheid in die vervallendheid, die estetiese in die afskuwelike, en die ewige in die verganklike. Alle stories is eintlik mos maar liefdesverhale, maak nie saak of dit romanzas of elitistiese literêre werke is nie.
In Die Grafdigter vertel Taljaard van die liefde tussen ‘n ouma en haar kleindogter. ‘n Ouma wat haar kleinkind ten alle koste wil beskerm, maar haar in die proses groot leed aandoen, omdat die staat se belange altyd eerste kom.
Maar dit gaan ook oor Baboesja se liefdesverhouding met die Sowjet, omdat sy “Moedertjie Rusland” as ‘n moederfiguur sien, al is dit ‘n wrede, harde liefde. Jy leer ken die noue vriendskap tussen Mila en haar “aangrypend lelike” vriendin, Zhanna, wie se skeel oog die bosinlike kan sien.
Uiteindelik handel die roman oor Mila se grootste liefde – die gekwelde Suid-Afrikaanse antropoloog, Martin Joubert. ‘n Verhaal waarin menseverhoudinge sentraal geplaas word, maar ook hoe die waarheid dikwels bewustelik of onbewustelik verdraai word.
Analize Viljoen het met Gerda gesels:
Die roman spruit uit kortverhale wat jy reeds voorheen die lig laat sien het. Was dit altyd die idee om die verhale in romanvorm te verwerk?
Ek skryf dikwels kortverhale oor ‘n sekere tema of karakter voor ek ‘n roman daaroor aanpak. Dit was ook die geval met my vorige roman, Vier susters.
Dit is ‘n effektiewe vingeroefening.
Gedigte lei ook dikwels tot ‘n verhaal, en andersom. Dis ‘n manier om my gedagtes in orde te kry en ‘n raamwerk op te stel om ‘n basiese verhaallyn en plot te bewerkstellig.
Hoewel Die grafdigter ‘n roman is met ‘n sentrale verhaal, is daar ook ‘n aantal ander verhale wat deurentyd deurgeweef word en naatloos in mekaar steek. Hoe het die verhale tot lewe gekom?
Omdat Mila ‘n sielkundige is, moet sy gereeld haar pasiënte se ‘stories’ aanhoor: lewensverhale van verlies, lyding, verwerping en ontnugtering.
Om stories te vertel, kan helend wees en verligting bring, maak nie saak hoe vals dit dikwels is nie. Dit is waarom Mila herinneringe aan haar kindertyd opteken, sodat sy haar trauma kan verwerk en haar gelukkigste oomblikke nie in die niet verdwyn nie.
Elkeen van hierdie herinneringe vorm dan aparte stories oor ‘n ouma en kind, maar word verweef met Mila se verhaal wat in die hede afspeel, dit wat sy as volwassene beleef, wat uiteindelik versmelt tot ‘n verhaallyn.
In die boek merk jy op dat Suid-Afrikaanse skrywers van literêre werke ‘n soort obsessie het met verganklikheid, Verganklikheid is ook ‘n belangrike tema in Die grafdigter. Waarom die tema?
Die roman se titel dien eintlik as ‘n antwoord op hierdie vraag: ‘n grafdigter is iemand wat melancholiese verse oor die dood en verganklikheid in ‘n begraafplaasmilieu skryf om ons daaraan te herinner dat die dood deel van die lewe is.
Soveel as wat kerkhofgedigte oor beendere en verrotting gaan, handel dit egter ook oor die vooruitsig op ‘n nuwe lewe. Die hele roman kan as ‘n kerkhofgedig gesien word, vandaar die poëtiese aanslag.
Vertel ons meer van jou skryfproses?
Omdat ek dikwels gedigte skryf voordat ek met ‘n roman begin, kom die beeldspraak wat ek in die gedigte skep, handig te pas in die roman. ‘n Roman is ‘n kunswerk. Elke woord moet bydra tot die estetiese geheel. Dit moet geweeg en geslyp word en reg op die oog en oor val. Ek is nie ‘n goeie beplanner nie. Ek skryf nogal holderstebolder deur met ‘n sin of paragraaf waarvan ek hou weg te spring en daarop uit te brei, wat uiteindelik ‘n storie word.
Die boek speel in Rusland af, en daar word heelwat vergelykings getref tussen Suid-Afrika en Rusland, omdat daar ‘n Suid-Afrikaanse karakter in die verhaal is. Waarom Rusland?
Ek is van jongs af versot op Russiese letterkunde en musiek. Veral Russiese en Oekraïense koorkomposisies wat ‘n mens dadelik verplaas na sneeubedekte landskappe, berkenwoude en bevrore mere.
Ek het ook Sint Petersburg besoek, ‘n kort maar intense reis. Verder put ek kennis en inspirasie uit boeke en die verbeelding. Laasgenoemde het gelei tot ‘n dromerige, betowerende atmosfeer wat dikwels ook in Russiese werke te vinde is.

Dit is ‘n boek wat mens meer as een keer kan lees, en jy gaan steeds goed ontdek wat jy die eerste keer gemis het. Wat sou jy wou hê mense moet raaksien wat hulle dalk kan bybly?
Lesers sal besonderhede raaklees wat ek nie noodwendig eksplisiet gestel het nie, en wat ek nie bewustelik neergepen het, of opsetlik my intensie was nie.
Elke leser se leeservaring moet uniek wees.

Wat lesers hopelik sal bybly, is die skoonheid in die vervallendheid, die estetiese in die afskuwelike, en die ewige in die verganklike



