Stelselfout laat munisipale verbruikers in verskeie dorpe in die duister, haakplekke steeds hier en daar
Sover bekend was dit die eerste keer dat verbruikers in verskeie munisipaliteite op so 'n groot skaal deur die stelselfout geraak is.
‘n Tegniese fout op die Netwerk van die nutsdienstestelsel waardeur munisipale gebruikers hul elektrisiteitskoepons vir voorafbetaalde elektrisiteitsmeters koop, het verbruikers in verskeie munisipaliteite onkant gevang en ongekende chaos veroorsaak toe daar Sondagmiddag geen elektrisiteitskoepons by derdeparty diensverskaffers, insluitend banktoepassings en OTM’s gekoop kon word nie. Benewens verbruikers in al die dorpe binne die Ngwathe munisipaliteit (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville), is inwoners van Metsimaholo (Sasolburg), groot gedeeltes van Noordwes (Potchefstroom, Klerksdorp en Hartebeespoort), Witbank en omgewing, asook gedeeltes van Krugersdorp, en in die omgewing van Bethlehem onder meer geraak.
Soos die Ngwathe Munisipaliteit, het die JB Marks Munisipaliteit wat Potchefstroom bedien, asook die Metsimaholo Munisipaliteit (Sasolburg) hul verbruikers in kennis gestel dat die stelselprobleem buite hul beheer is. Sover vasgestel kon word is dit die eerste keer dat soveel munisipaliteite gelyktydig deur ‘n probleem op die stelsel geraak is.
Die stelsel het Sondag al voor 12:00 probleme gehad en is Utilty World in kennis gestel. Tegniese spanne het deurentyd foutopsporing gedoen, en het die stelsel aan en af later traag begin om transaksies te verwerk. Die buitengewoon hoë volume onverwerkte transaksies het egter veroorsaak dat die stelsel later die middag weer geswig het onder die druk.
Teen Maandag in die vroeë oggendure is die stelsel herstel en plan gemaak om die hoë lading verkeer op die stelsel te probeer hanteer. Kort voor lank het die bottelnek van transaksies egter opnuut netwerkprobleme veroorsaak. Baie huishoudings het toe reeds hande in die hare en met dreunende noodkragopwekkers sonder eenhede op hul meters gesit.
Ngwathe-verbruikers kon wel teen 09:00 Maandag by munisipale kantore met die uitsondering van Edenville, kragkoepons koop, en teen 11:00 Maandag het die selsel sodanig herstel dat by verskeie derdepartye verskaffers en ook op banktoepassings kragkoepons gekoop kon word. Stelseloperateurs sou die situasie bly monitor om te verseker dat haakplekke uitgesorteer word, het die Ngwathe munisipaliteit gesê.
Dinsdagmiddag en selfs teen Donderdag het verbruikers weer haakplekke op sekere banktoepassings gerapporteer, maar wou dit voorkom asof meeste verbruikers wel met kragaankope geholpe kon kom.



