Kiesers trotseer ysige koue om te registreer
Stemgeregtigde kiesers sal op 4 November na die stembus gaan vir die landwye munisipale verkiesing.
Hoewel kiesers nie by een van die stemlokale in die Ngwathe munisipale gebied wat Gazette oor die naweek besoek het, in lang toue gestaan het om te registreer nie, was daar wel deurentyd oor die naweek kiesers wat die ysige koue en reën trotseer het om te gaan seker maak dat hul gereigstreer is vir die komende plaaslike munisipale verkiesing op 4 November.
Teen Sondagmiddag was daar nog by enkele van die stemlokale laaste minuut kiesers wat kom registreer het soos by Parys Openbare Biblioteek en die AME Church.
By die Schonkenville-stadsaal het minder as 50 kiesers Saterdag geregistreer en 130 kiesers Sondag. By AME Church was daar Saterdag 74 kiesers en Sondag 67. ‘n Totaal van 40 kiesers is Saterdag by die Mosepidi-saal getel, en 30 kiesers Sondag.

Kiesers het oral aangedui dat hul tevrede was dat stemlokale betyds oopgemaak het, en is gehelp selfs waar stelsels Saterdag by enkele plekke gehaak het.
Vriendelike diens
Die diens in Ngwathe se 53 stemlokale is as vriendelik en effektief beskryf, en het kiesers aan Gazette gesê dat hulle in minute gehelp is om hul registrasiestatus te kon nagaan, te registreer, of te herregistreer waar daar van adres verander is.
Jong kiesers
Jonger kiesers en kiesers wat vir die eerste keer vanjaar sal stem, is ook by stemlokale gesien, en het politieke partye met wie Gazette gesels het, gesê dat hulle tevrede is met die verloop van die registrasienaweek.
Geen ernstige voorvalle by VS stemlokale aangemeld nie
Volgens brigadier Thandi Mbambo, hoof van kommunikasie vir die polisie in die Vrystaat, het registrasienaweek suksesvol regoor die provinsie afgeloop sonder enige ernstige voorvalle wat gerapporteer is.
Mbambo het gesê die ordelike verloop van die registrasieproses getuig van Vrystaatse inwoners se verbintenis tot demokrasie, verantwoordelike burgerskap en respek.
Die Vrystaatse polisiekommissaris, luitenant-generaal Thabang Lesia, het gemeenskappe, politieke partye, OVK-personeel en alle ander rolspelers bedank vir hul samewerking en gesê dat dit die polisie se taak vergemaklik het. Polisielede wat oor die naweek diens gedoen het, is spesifiek ook bedank vir hul rol om gemeenskappe en stemlokale veilig te hou.





