Wees waaksaam, bly kalm gedurende beplande landswye protesoptogte
Wetstoepassers is reeds op 'n hoë gereedheidsgrondslag in alle provinsies.
In die lig van die landwye beplande protesoptogte teen onwettige immigrante wat na verwagting op 30 Junie sal plaasvind, het die burgerregte organisasie, AfriForum gesê dat daar tans geen rede vir paniek is nie, en het mense aangeraai om kalm, ingelig, waaksaam en voorbereid te bly.
AfriForum se Gemeenskapsveiligheid-span het ook ‘n beroep op mense gedoen om die verspreiding van ongeverifieerde inligting of gerugte op sosiale media te vermy. “Betroubare inligting en bewustheid bly van die doeltreffendste instrumente wat gemeenskappe gedurende tye van onsekerheid kan bied, is gesê.
Die organisasie raai die publiek aan om:
- Op hoogte te bly deur opdaterings van betroubare gemeenskapsveiligheidsstrukture, buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums, plaaslike sekuriteitsmaatskappye en wetstoepassingsagentskappe.
- Seker te maak dat jou voertuig te alle tye genoeg brandstof het. Padsluitings, verkeersopeenhopings en die behoefte aan onverwagte roeteveranderinge kan voorkom.
- Beplan reisroetes vooraf en identifiseer alternatiewe roetes na jou werk, skool en ander noodsaaklike bestemmings.
- Vermy algemene protesgebiede waar moontlik. Indien demonstrasies in jou area aangekondig word, oorweeg dit om nie-noodsaaklike reise uit te stel.
- Behou kommunikasie met familielede oor jou verblyfreëlings en beoogde reisroetes.
- Indien jy ’n protesoptog teëkom terwyl jy bestuur, moenie probeer om deur skares, versperrings of padversperrings te ry nie. Draai om en soek ’n alternatiewe roete sodra dit veilig is om dit te doen.
- As jy jouself naby ’n byeenkoms bevind wat aggressief of onstabiel raak, verlaat die area onmiddellik en vermy konfrontasie.
- Moenie met betogers kommunikeer, met skares stry of probeer om konfronterende situasies van naby af te neem nie.
- Ondernemings moet gebeurlikheidsplanne hersien, verseker dat personeel noodprosedures ken en in kontak bly met plaaslike sekuriteitsverskaffers.
Gemeenskappe word aangemoedig om waaksaam te bly, mekaar te ondersteun en veiligheid te prioritiseer, terwyl wetstoepassingsinstansies toegelaat word om hul verantwoordelikhede na te kom, het AfriForum gesê.
“Die beste reaksie gedurende periodes van onsekerheid is nie paniek nie, maar voorbereiding. Gemeenskappe wat ingelig, verbind en waaksaam is, is baie beter geposisioneer om hulself te beskerm en te verhoed dat hulle slagoffers word van omstandighede buite hul beheer,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.
Gazette het vroeër ook berig dat polisielede en ander betrokke rolspelers op ‘n hoë gereedheidsgrondslag is. Die publiek kan padblokkades, stop-en-deursoek operasies, bewusmakingsveldtogte en inspeksies by besigheidspersele te wagte wees vir die nakoming van regerings- en munisipale regulasies.
Die publiek sal in kennis gestel word sou daar paaie of gebiede is wat vermy moet word.




