Curriebeker 2025 – Rugbyraai

Griekwas wen historiese Curriebeker na halwe eeu
Dustin Wetdewich
Die Griekwas het teen alle verwagting die Leeus geklop om hul eerste Curriebeker in meer as 50 jaar te wen. Dit was die Griekwas se voorspelers wat die grondslag vir dié historiese oorwinning gelê het. George Whitehead het in die doodsnikke van die wedstryd ‘n strafskop oor die pale geklits om die oorwinning te verseker. Wat dit vir die Kwaste meer merkwaardig gemaak het, is dat hulle teen ‘n vol sterkte Leeu-span gespeel het, wat drie Springbokke in hul geledere gehad het. Niemand kan die oorwinning wegpraat nie. Daar is reeds oproepe om vir spanne soos die G Griekwas internasionaal te laat kompeteer. Soos dinge nou staan sal hulle eers weer in Maart met die afskop van die SA Beker in aksie wees. Terwyl die Haaie, Leeus, Bulle en Stormers reeds komende naweek hulle Verenigde Rugbykampioenskap veldtog afskop. Die finalal se uitslag het nie net konsternasie in die rugbywêreld veroorsaak nie, maar het ons Rugbyraai kompetisie ook amper op sy kop geswaai. Ons wenner vanjaar is Kooperasie Kos en Kroeg, maar Eastvaal en Build It het dit amper gemaak en is slegs een punt van die wenner af. Build It was die enigste voorloper tussen die voorspellers wat die Poubloues gekies het om te wen. As hulle die telling reg geraai het, kon hulle in die 80ste minuut dalk saam met Kooperasie bo aan die punteleer klaargemaak het. Die Curriebeker is nou verby, maar die rugby is nog ver van klaar met die VRK wat begin en verskeie Springbokwedstryde waarna liefhebbers nog kan uitsien.
