Spesiale Vrouedagpromosie vir Aardklop
Lizz Meiring: The ‘Real Housewife, Gryp elke grasHolm en Davel en Klink: In harmonie is maar van die produksies wat op promosie sal wees vanaf 9-11 Augustus.
Hierdie Vrouedag (9 Augustus) gaan Momentum Aardklop vroue in die kunste vier met ‘n spesiale promosie waar feesgangers 30%-afslag op uitgesoekte produksies sal kry.
Feesgangers het ‘n twee-dae periode om hierdie afslag te kry vanaf Sondagoggend 9 Augustus (Vrouedag) om 08:00 en Dinsdagaand 11 Augustus om 20:00.
Om dié afslag te kry (sien onder vir die produksies waarvoor dit geld), gaan na SeatMe.co.za, kies die produksies waarvoor die promosie geld, en wanneer jy betaal, voeg jy die kode D4ME26 in
Die produksies waarvoor die afslag geld, is:
Ouma en die ou koeie: Margit Meyer-Rödenbeck is terug as Ouma. Hierdie komedie-kabaret gaan jou een oomblik laat skaterlag en die volgende oomblik saggies laat snak na jou asem, want jy mag jouself dalk net herken. En natuurlik altyd met ’n skeut nostalgie. Ook met Coenraad Rall op die klavier (Volprys: R220. Afslagprys: R154)

Lizz Meiring: The ‘Real Housewife: Hier lewer Lizz Meiring in die gedaante van ’n “real housewife” kommentaar op alles en nog wat, en steek ook vlymskerp die draak met die era van realiteitstelevisiesterre. Dis verrassend, eietyds, warmhartig en baie vermaaklik. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)
Gryp elke grasHolm: Marion Holm wil vir die gehoor gee wat ons almal nodig het: hoop, humor en harmonie. Die wêreld is tans deurmekaar; ons moet maar self die komedie maak en die lag skep. (Volprys: R200. Afslagprys: R140)
Amanda Strydom en Je-ani Swiegelaar: Tillie / Mathilda: Dié drama uit Strydom se pen, verweef met musiek, is die storie van twee prostitute – een oud, een jonk en onervare. Hul stories word die universele stem van vroue in alle situasies, hetsy goed of sleg, in desperaatheid of nood. Die produksie is benoem vir twee Kannas. Regie, stel- en beligtingsontwerp: Christo Davids. Musiekregie, -verwerking en klankbaan: Coenraad Rall. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)
Sandra Prinsloo: Die ander dogter: Die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir letterkunde ontvang het, het dié outobiografiese stuk geskryf oor haarself as ’n “plaasvervanger” vir haar suster, wat oorlede is twee jaar voor haar geboorte. Dit is ’n ragfyn stuk oor skuld, familie en verlies. Saartjie Botha het die teks verwerk, en die regisseur is Lara Foot. (Volprys: R250. Afslagprys: R175)
Wat om te doen as die wêreld brand: In hierdie kabaret vertolk Elzabé Zietsman die rol van ’n “Vra dr. Adri”-agony aunt, vir alles en almal in die universum, met vurige vertolkings van bekende treffers en ’n pragmatiese benadering tot oorlewing in tye wat soos die einde van dae voel. Ook met Jody Jason Petersen. Teks deur Bibi Slippers. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)
Davel en Klink: In harmonie: Anna Davel en Ilse Klink – twee vroue wat al vir jare lank Suid Afrikaanse stories vertel deur middel van musiek, film, teater, televisie en sang – span saam om die tema van liefde en hoop te verken. Musiekregie deur Jody Jason Petersen. (Volprys: R200. Afslagprys: R140)
Ommitafel: ’n Intieme reis waar stories oopgevou word soos ’n ou tafeldoek vol onthou. Hierdie dubbel-Kanna-benoemde vertoning het die vermoë om emosies los te torring, onthou uit te rafel en die lewe vir ’n oomblik oop te trek. Met Steffie le Roux en Mariette Galjaard. (Volprys: R190. Afslagprys: R133)
Beste voetjie voor: Wanneer die aspirant-DJ Hannie (Zandelle Meyer) haar voltydse club gig verloor, hustle sy deur Kaapstad met eenmalige gigs, waitressing en selfs voetfoto’s om te oorleef. Dis ’n kabaret vir jong mense en ’n ode aan al die hustlers daarbuite. Ook met Marcel Dednam. (Volprys: R180. Afslagprys: R126)
Belofte van vere: Terug op openbare aanvraag bring Momentum Aardklop vir die laaste speelvak hulde aan die geliefde Breyten Breytenbach – moet dit nie misloop nie. Met Rolanda Marais en Eben Genis (stemkuns), Ilse Klink (sang), Concord Nkabinde (baskitaar), David Klassen (tromme), Leon Gropp (kitaar en sang) en Laurinda Hofmeyr (klawers en sang). (Volprys: R230. Afslagprys: R161)

Boesman en Lena: Nadat dié produksie weens onvoorsiene omstandighede verlede jaar nie by Aardklop gedebuteer het nie, kan gehore in die noorde nou na uitsien na Athol Fugard se ikoniese stuk, in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim. Dit is ’n boeiende blik op die verwikkeldheid van verhoudings en sosiale ongeregtigheid. Met Veronique Jephtas, Brendon Daniels en Tshamano Sebe. Regie deur Christo Davids. (Volprys: R230. Afslagprys: R161)
CRYBABY: ’n Absurde tragikomedie wat handel oor die tol wat dit eis om te lewe in ’n geldgierige wêreld waar alles in duie stort. Met Frank Opperman, Nicole Holm, René Cloete, Gantane Kusch en Wian Taljaard. Teks en regie deur Carla Smith. (Volprys: R230. Afslagprys: R161)



