EntertainmentLifestyle

Album resensie: Hierdie is Van Coke se lewe

Die lewe gaan oor balans, om sin van jou lewe te maak en identiteit te skep. Die lewe is ook bekend vir sy teenpole: geluk en hartseer, donker en lig, eerste of laaste. Teenpole in die lewe is iets wat sterk op die voorgrond tree in Francois van Coke se tweede album, “Hierdie Is Die …

Die lewe gaan oor balans, om sin van jou lewe te maak en identiteit te skep. Die lewe is ook bekend vir sy teenpole: geluk en hartseer, donker en lig, eerste of laaste.

Teenpole in die lewe is iets wat sterk op die voorgrond tree in Francois van Coke se tweede album, “Hierdie Is Die Lewe” wat op Donderdag, 2 Februarie vrygestel is. Daar is altyd onsekerheid oor ‘n tweede album en of dit kers vashou met die eerste een, maar met “Hierdie Is Die Lewe” is daar geen twyfel nie.

Dit is ‘n meesterstuk wat oor en oor jou oordromme met plesier sal verskaf en nog beter is as Van Coke se eerste album, wat in opsig self ‘n uitstekende album is. Eerstens voel dit of Van Coke gemakliker is, en sy eie styl as solo-kunstenaar saam met sy band Die Gevaar (Jedd Kossew op kitaar, Richard Onraet op kitaar, Dolf Willemse op baskitaar en Sheldon Yoko op dromme) gekry het. Alles voel meer deel van ‘n eenheid en daar is op die nuwe album geen ander gaskunstenaars betrokke nie. Tweedens vertel hierdie album ‘n storie met klomp hoofstukke en gebeurtenisse van hede en verlede in outobiografiese styl – musiek uit Van Coke se eerlike perspektief van hoe hy die lewe ervaar.

Hier is ‘n snit vir snit oorsig van “Hierdie Is Die Lewe”

1. Mensdom

Hierdie is die eerste enkelsnit van die album en die rede hiervoor is duidelik. Dit het ‘n lekker vibe met ‘n ritmiese kitaarmelodie wat eenvoudig maar aansteeklik is. Dit sit op ʼn goeie manier in jou kop vas. Dit sal natuurlik ook een van Van Coke se live treffers word. Die “ooh ahh ahh” dele gee dit ook ‘n lekker saamsing effek.  Dolf Willemse se werk op die baskitaar moet hier geprys word, sowel as Jedd Kossew se kitaarsolo. Die lirieke is ook treffend en tekenend van die tyd waarin ons lewe en hoe die mensdom hulle tyd bestee “ons raak nie jonger nie,” sing Van Coke.

2. My Hart

Die kitaardeel in die begin is wat My Hart daardie ekstra skop gee en dit lekker momentum gee sodat die song in die koor kan uitstaan. Die lirieke is ook goed geskryf en beeld die emosie goed uit in “My hart verloor, die hartseer is oor, my hart verloor” en “Die lewe raak beter solank jy net oorleef”. In hierdie song meen Van Coke ook dat almal dieselfde asem haal en seer voel al is ons nie dieselfde mens nie.  Hierdie is beslis ‘n lekker nommer met ‘n tempo wat jou sal laat kopskud.

3. Beter Mens

“Ek besef daar is meer as genoeg hier op aarde. Die lewe sal nie wag nie, maar jy sal. Geen einde nie, ons stop nie. Ons stop nie.” Hierdie lirieke is van my gunsteling op die album en hierdie song is een van Van Coke se bestes met sagter dele in die verse en harde dele in die koor wat Van Coke se stem en intensiteit perfek uitbeeld. Van Coke kry dit altyd reg om melodieë met harder klanke te meng en “Beter Mens” doen dit uitstekend.

4. Weet Jy Wat Ek Bedoel?

Van Coke se manier om sy lewensgebeurtenisse in lirieke te omskep was nog altyd een van sy sterkpunte en met “Weet Jy Wat Ek Bedoel” kom dit sterk deur. “Ek wens daar was meer tyd in die jaar vir mekaar” is nog een van my gunsteling lirieke en is iets waarmee almal kan saamstem. Die musiek in hierdie song het ‘n retro-gevoel en komplimenteer die effek van die song.  Kossew se kitaarwerk en kreatiwiteit met aanloklike wysies in die vers is veral ‘n pluspunt.

5. Paradys

Geharde Van Coke Kartel en Fokofpolisiekar aanhangers sal van hierdie vinniger en meer harde nommer hou. Paradys is ‘n song wat op die wêreld se alledaagse probleme en verantwoordelikhede fokus. As ons ouer word, is daar meer dinge wat ons tyd besig hou en nie ewigswaarde het nie. Van Coke verskaf ‘n klompie wyshede hier: “Hou jou drome groot en jou bekommernisse klein, as jy bekommer gaan jy dood, as jy nie gaan jy ook”.

Van Coke fokus ook op daaglikse verantwoordelikhede soos belasting, versekering, kos, klere en ‘n lewenspolis om ‘n prentjie van die mens se bestaan uit te beeld. Dit is ontnugterend om skielik groot te word en hier probeer Van Coke sin maak van als.

6. Ek Wens

“Moenie my veroordeel nie. As jy teen die monsters veg, pasop om nie een te word nie.” So waarsku Van Coke in hierdie stadiger en rustiger song wat baie in die styl van sy eerste album is. Daar is wel ook allerhande interessante musikale elemente hier verteenwoordig wat die song diepte en volheid gee. Van Coke wens hier vir ‘n beter toekoms in ‘n beter land met vooruitsigte en minder negatiwiteit en vervreemding – iets waarmee  almal kan vereenselwig. ‘n Mens kan hier ook agterkom dat Van Coke sy verantwoordelikheidsin begryp veral as man en pa vir sy gesin.

7. Gewaarsku

Die rustige kitaarmelodie is een van die beste musikale stukke van die album wat soos heuning saam met Van Coke se stem en lirieke pas. Die ritme pas by die nostalgiese verlede wat in die lirieke beeld kry en dan ook die rebelse streep van Van Coke uitbeeld: “Almal het gesê die lewe sal verander. Almal het gesê die lewe is verby. Almal het gesê vryheid sal verdwyn. Ek is gewaarsku maar ek gee nie om nie.” Die kitaarmelodie het ook ‘n Beach Boys gevoel. Hierdie is lekker luistermusiek wat perfek vir ‘n roadtrip is. Vensters afgedraai op ‘n salige laatmiddagrit met die son in die agtergrond.

8. Dit Raak Beter

Op hede is hierdie verseker die eerlikste outobiografiese lied uit Van Coke se pen. Die kitaarmelodie is gemaak om mee stories te vertel en die hele song sit ‘n mens sommer op ‘n nostalgietrein saam met Van Coke waar hy vertel hoe hy die mens geword het wie hy nou is. Hoekom hy dink soos hy dink, wat hy tans retrospektief ervaar en hoe hy na tye van lewe terugdink. Dit is intiem, maar ook praat dit met enige luisterraar wat kan saamstem dat dinge met tyd beter raak. Die lirieke en wysie is ook een wat live die skare in ‘n massakoor sal laat verander. “Dit raak beter as jy ouer raak. En my kop voel minder deurmekaar, verantwoordelikheid mors al my tyd en geld, dit raak beter as jy ouer raak.”

9. Normaal te Voel

As ritme is wat jy soek dan is jou ore op die regte plek met hierdie nommer. Die kitaar herinner aan klassieke rock met so bietjie southern rock tussen in. So bietjie Creedance Clearwater Revival  met ’n akoestiese aanslag. Dit klink organies en natuurlik en dit is iets wat die hele album omsluit. In hierdie een verduidelik Van Coke dat hy probeer het om normaal te voel, maar steeds nie op mense se “standaarde” gekom het nie. Normaal is relatief en Van Coke is gelukkig met wie hy is, of hy “normaal” is of nie.

10. Die Wêreld is Mal

“Wolke gooi skaduwees, dis snaakse weer. Die reuk van my huurmotor wat my irriteer. Die lug is droog en eks onwelkom hier. Ek is vêr van die huis af, alleen en vêr van die huis af.”

So begin hierdie ballade wat Van Coke met ongelooflike emosie sing en sy liefde beklemtoon. Dit is eerlik, passievol en vol beskrywings. Die wêreld is dalk mal met al sy vreemde mense en gebeurtenisse elke dag, maar steeds is daar altyd daardie een persoon wat alles normaal laat voel, al is die wereld kompleks en kwesbaar. “Jy is die uitsondering, want die wereld is mal.” ‘n Pragtige wysie wat ‘n mens as luisteraar hoendervleis gee.

11. Klein Prys

Klein Prys is amper in dieselfde trant as “Dit Raak Beter” geskryf maar in plaas van in outobiografiese styl oor homself, sing van Coke hier oor sy broers en bende in Fokofpolisiekar. Hier vertel hy van al die goeie en slegte tye wat hy beleef het, maar dat hulle nou nog sterker is en alles deurgemaak het met merke en al. Al is dit ‘n klein prys om te betaal, sou hy niks anders gedoen het nie. Hy is wie hy is danksy sy begin met Fokofpolisiekar en vir die Bende sal daar altyd plek wees. Innig, opreg en sonder skroom, so is die laaste song ‘n spieëlbeeld van Van Coke as mens.

Hy is wie hy is en hierdie is die lewe in sy oë met sy musiek – die hartklop van sy bestaan.

*Ek gee hierdie album ‘n soliede 8/10 wat met ‘n mengsel van goeie produksie, lirieke en musikale elemente definitief een van die beste albums tot dusver vanjaar is.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button