Maties se stoomtrein rol oor Pukke in Stellenbosch
Maties het behoorlik wraak geneem gisteraand (Maandag, 13 Februarie) op die Danie Craven Stadion in Stellenbosch toe hulle vir Pukke met 31-9 ‘n rugbyles gegee het. Net 10 maande vroeër het Pukke op dieselfde plek teen Maties die Varsitybeker gelig, maar nou moes hulle die ander kant van die spektrum ervaar – hulle eerste nederlaag …
Maties het behoorlik wraak geneem gisteraand (Maandag, 13 Februarie) op die Danie Craven Stadion in Stellenbosch toe hulle vir Pukke met 31-9 ‘n rugbyles gegee het.
Net 10 maande vroeër het Pukke op dieselfde plek teen Maties die Varsitybeker gelig, maar nou moes hulle die ander kant van die spektrum ervaar – hulle eerste nederlaag in hierdie jaar se Varsitybeker.
Jeandré Rudolph se Puk-span het net nie werklik vir hierdie wedstryd opgedaag nie, en op vele fasette het Maties die besoekers se hanterings- en aangeefoute tot hulle voordeel gebruik.
Maties het van die staanspoor af, met luidrugtige ondersteuning van die pawiljoene af, die voortou geneem toe flanke, Mitchell Carstens en Kobus van Dyk oorgeduik het. Maties se losvoorspelers was baie beter in die losgemaal en hulle skrums het ook op stadiums oorheers. Vir die eerste 20 minute kon Pukke skaars in hulle opponent se kwartgebied kom en hierdie goeie begin van Maties het die wind uit Pukke se seile geslaan.
Pukke het wel ‘n kans gekry om terug te weg toe Jimmy Mpailane onderskep het en onder die pale gaan druk het om met ‘n 7-punt drie die puntegaping te vernou.
Tog het Maties steeds die wedstryd beheer met hulle losskakel Ernst Stapelberg wat ‘n uitstekende wedstryd met sy skopvoet gehad het. Stapelberg het gedurig sy gevaarlike agterlyn die geleentheid gegee om gapings te benut. Dit het later in die wedstryd vrugte afgewerp toe die linkervleuel, Edwill van der Merwe, deur twee Pukke verdedigers geloop het om te gaan druk.
Dit het die wedstryd kortliks opgesom – Maties se aanhoudende aanval teen Pukke se bevraagtekende verdediging.
Rudolph was die Pukke se beste speler en hy het sy hart uitgespeel, terwyl meeste van sy spanmaats nie die mas in Matieland opgekom het nie.
Hierdie nederlaag is dalk net die regte medisyne vir Pukke wat bittervinnig aarde toe gekom het.
Punte:
Maties: 31
Drieë: Mitchell Carstens, Kobus van Dyk, Edwill van der Merwe
Strafskoppe: Ernst Stapelberg (4)
Doelskoppe: Stapelberg (1), Christo Smith (1)
Pukke: 9
Drieë: Jimmy Mpailane



